Nuus 06:00
BULLETIN 7 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum glo sy dringende aansoek om die matriekuitslae te publiseer sal slaag
# Suid-Afrika benodig 200-miljard-rand vir ekonomiese groei
# En krieket: Die Proteas wen die laaste toets teen Pakistan oortuigend
# AfriForum verwag ‘n positiewe uitslag met die Hooggeregshof in Pretoria wat vandag ‘n dringende aansoek van die Inligtingsreguleerder aanhoor om die publikasie van die 2024-matriekuitslae in die media te keer, met verwysing na kommer oor privaatheid. Die Departement van Basiese Onderwys voer aan vorige hofbevele het die publikasie toegelaat. AfriForum se hoof van kultuursake, Alana Bailey, sê die hofbeslissing sal dit duidelik maak of die uitslae volgende week in die media mag verskyn:
# Suid-Afrika moet 200-miljard-rand belê om sy spoorweë te laat herleef en waterinfrastruktuur op te gradeer om ekonomiese groei te bevorder. Volgens die Buro vir Ekonomiese Ondersoek het die versuim om bottelnekke in elektrisiteit, regering en infrastruktuur te takel, veroorsaak dat die land stagneer. Die Impumelelo Ekonomiese Groeilaboratorium van die Buro waarsku Suid-Afrika se ekonomie, wat die afgelope dekade gemiddeld minder as een-persent gegroei het, sal sonder hierdie kritieke beleggings aanhou sukkel. Hulle verwag slegs 1,7-persent groei in 2025 en net minder as twee-persent tussen 2026 tot 2029.
# Die speaker van die Johannesburgse stadsraad, Nobuhle Mthembu, het die kantoor se verbintenis tot die oppergesag van die reg bevestig. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Johannesburg die raad se BBP-beskermingsbeleid onregmatig verklaar het. Die hof het bevind die beleid is ingestel sonder ‘n vereiste risikobepaling deur die polisie. Mthembu sê die kantoor hersien die uitspraak en sal op grond van regsadvies optree:
# Justin Trudeau sê hy is van voorneme om te bedank as Kanada se eerste minister en leier van die Liberale Party, sodra ‘n nuwe partyleier gekies is. Trudeau, wat sedert 2015 eerste minister is, het te midde van swak vertonings in meningspeilings, oproepe om te bedank in die gesig gestaar. Kanada se parlement sal tot 24 Maart verdaag terwyl ‘n nuwe leier gekies word. Trudeau sê die beëindiging van die twis rondom sy leierskap sal die situasie ontlont:
# Krieket: Suid-Afrika het die toetsreeks teen Pakistan twee-nul beklink ná ‘n oorwinning van tien paaltjies op dag vier van die tweede toets in Kaapstad. Die Proteas het 615 in hul eerste beurt aangeteken, insluitend honderdtalle deur Ryan Rickelton, Temba Bavuma en Kyle Verreynne. Die besoekers is in hul eerste beurt vir 194 uitgeboul. Pakistan het begin met ‘n agterstand van 421 lopies in hul eerste beurt, en was op 478 almal uit. Suid-Afrika kon egter maklik ‘n teiken van 58 in net 7,1 boulbeurte behaal om die reeks te wen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-69-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-635-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-16-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Seereddingsinstituut gaan voort met soektogte ná verskeie verdrinkingsvoorvalle in Suid-Afrika tydens die feestyd. Vermiste persone sluit in, ‘n 18-jarige by Brighton-strand, twee individue aan die Kaapse Weskus, en ‘n man wat probeer het om die Jukskeirivier oor te steek. Die NSRI se woordvoerder, Craig Lambinon, het die publiek aangemoedig om slegs by strande waar daar lewensredders is, te swem en alkohol naby water te vermy, aangesien dit moontlik kon bydra tot van die verdrinkings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….