Nuus 06:00
BULLETIN 6 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Vlak 8-weerwaarskuwing is vir KwaZulu-Natal uitgereik
# Die grootste winterstorm in meer as ‘n dekade tref die VSA
# En krieket: Die Proteas loop voor, maar Pakistan veg terug
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n Vlak 8-waarskuwing uitgereik vir verspreide reënval wat vandag oor groot dele van KwaZulu-Natal verwag word en tot Woensdag sal voortduur. Die diens sê die reën kan lei tot wydverspreide oorstromings van paaie en nedersettings, lewensgevaar, en die verlies van vee langs die kus van KwaZulu-Natal. Dit kan moontlik groot roetes in die provinsie ontwrig gedurende vakansiegangers se terugtog huis toe. Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thulasizwe Buthelezi, sê rampbestuurspanne is op gereedheidsgrondslag geplaas.
Die Vrystaatse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake is intussen bekommerd oor die erge reën en donderstorms wat skade in Welkom in die Vrystaat aangerig het. Die woordvoerder, Zimasa Mbewu, sê in die stadium kan die departement nie bevestig of ‘n tornado of hewige donderstorm die skade veroorsaak het nie, maar hulle wag op ‘n bevestigingsverslag van die Suid-Afrikaanse Weerdiens:
# Die Wes-Kaapse Provinsiale Regering is bekommerd oor die 106 noodlottige ongelukke en 122 sterftes wat op munisipale en provinsiale paaie aangeteken is tydens die feestyd, vanaf die eerste Desember tot die eerste Januarie. Die provinsiale LUR vir Mobiliteit, Isaac Sileku, sê hoewel hierdie syfers ‘n verbetering toon in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar, beklemtoon dit steeds ‘n noodsaaklike behoefte aan verhoogde padveiligheidspogings:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente stel vandag sy studenteverblyfportaal oop vir al sy begunstigdes en aansoekers wat kwalifiseer vir die 2025 akademiese jaar. Die aansoeke sal vir alle instansies oop bly tot al die geakkrediteerde eiendomme vol is. NSFAS sal ook steeds die geakkrediteerde eiendomme herevalueer, wat geïdentifiseer is as eiendomme wat nie aan die Beleid oor die Minimum Norme en Standaarde vir Studentebehuising voldoen nie. Die skema sê indien daar gevind word hierdie eiendomme voldoen steeds nie, sal hulle akkreditasiesertifikate herroep word.
# ‘n Kragtige weerstelsel sal ten minste 12 state in Amerika tref met sneeustorms en gepaardgaande wind van tot 80 kilometer per uur. Die winterstorm sal gevaarlike reistoestande en potensiële kragonderbrekings in ‘n groot deel van die land veroorsaak, en tot 62-miljoen mense sal geraak word. Die storm het in die middel van die VSA ontstaan en sal binne die volgende paar dae ooswaarts beweeg. Voorspellers sê die uiterste weer word veroorsaak deur die polêre draaikolk, ‘n gebied met koue lug wat rondom die Arktiese area sirkuleer.
# Krieket: Pakistan se Babar Azam en Shan Masood het gister Suid-Afrika se aanval die hoof gebied om hul tweede beurt op dag drie van die tweede toets op Nuweland in Kaapstad met 213 vir een af te sluit. Hulle is in hul eerste beurt vir 194 uitgeboul. Masood se spel het sy span hoop gegee en sy vennootskap met Babar was Pakistan se beste opening ooit teen Suid-Afrika. Teen die einde van spel het die toeriste nog 208 lopies gekort om Suid-Afrika weer te laat kolf. Masood op 102 en Khurram Shahzad op nege hervat spel vandag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-466-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-641-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….