Nuus 06:00
BULLETIN 12 Desember 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola vra vir ‘n inklusiewe wêreldbestuurstelsel
# Meer as 500 spaza-winkels in Gauteng is gesluit weens nienakoming
# En Siriese rebellevegters het die graf van Bashar al-Assad se pa aan die brand gesteek
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika vra die versekering dat die globale bestuurstelsel inklusief is en die globale Suide se belange in ag neem. Die minister het gister in Pretoria met die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres vergader. Lamola sê Suid-Afrika hoop die wêreld gaan deur die G20-presidentskap nader kan beweeg aan waar volhoubaarheid, gelykheid en solidariteit die dringendste uitdagings wat mense wêreldwyd in die gesig staar, kan aanspreek:
Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, vra intussen globale samewerking oor die uitdagings van Afrika terwyl Suid-Afrika voorsitter van die G20 is. Guterres het tydens die G20-sjerpa-vergadering in Sandton, Johannesburg, die rol van die G20 in die bekamping van armoede, honger en ongelykheid beklemtoon en hierdie leierskap uitgesonder as ‘n geleentheid om Afrika se belangrike kwessies te bevorder. Hy vra ingrypende hervormings om ontwikkelende lande te ondersteun en finansiële onreg aan te pak:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê die verhoging van 13,4-persent in die bydraes vir die Mediese Fonds vir Staatsamptenare vir volgende jaar dreig om salarisonderhandelinge in die staatsdiens te ontspoor. Die vereniging waarsku die verhoging sal die maandelikse salaristjek van baie staatsamptenare verminder, wat mediese fonds onbekostigbaar sal maak en sommige werkers sal dwing om lidmaatskap te kanselleer. Woordvoerder Claude Naiker beloof om vakbonde te mobiliseer om die styging te beveg, en beskuldig GEMS daarvan dat hy sy monopolie uitbuit.
# Die Gautengse LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile sê samesprekings met eienaars van kommersiële eiendom in townships het gehelp om die aantal spazawinkelregistrasies te ondersteun. Altesaam 13-duisend-616 registrasievorms is aan plaaslike en buitelandse eienaars regoor die provinsie uitgereik sedert registrasie op die 15de van verlede maand begin het. Altesaam 541 spaza-winkels is gesluit weens nie-nakoming. Maile sê die registrasieproses is vereenvoudig om te verseker dat sake-eienaars nie in rompslomp vasgevang word nie:
# Siriese rebelle het die graftombe van oud-president Basjar al-Assad se pa in sy voormalige tuisdorp, Hafez al-Assad, aan die brand gesteek. Winkels het intussen in Damaskus heropen en mense keer terug werk toe. Werkers in die hoofstad het aan BBC gesê hulle hoop beter tye sal volg terwyl hulle nog aanpas by ‘n lewe nadat Assad se regime beëindig is. Israel het ook bevestig hy het aanvalle op die Siriese vloot gedoen en 350 lugaanvalle uitgevoer in sy poging om militêre bates in die land te neutraliseer.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Louis Oosthuizen glo hy sal sy Alfred Dunhill-kampioenkapstitel in Mpumalanga kan verdedig ondanks baie sterk teenstand. Agt van die laaste 13 kampioene neem in Malelane deel, insluitend sy landgenote Charl Schwartzel, Christiaan Bezuidenhout, Brandon Stone en Richard Sterne, asook die Spanjaard Pablo Larrazabal. Oosthuizen beskou verlede jaar se oorwinning oor Schwartzel as een van sy beste prestasies en beskryf Leopard Creek as ‘n baan wat hom nog altyd ore aangesit het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-347-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-718-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….