Nuus 06:00
BULLETIN 11 Desember 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sal die VN se sekretaris-generaal António Guterres ontvang
# Die DA waarsku oor finansiële verliese weens die OR Tambo-brandstofonderbrekings
# En die rassismesaak van die Pretoria High School for Girls word tydelik van die rol geskrap
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sal vandag die gasheer wees vir die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, tydens ‘n hoflikheidsbesoek in Pretoria. Die vergadering sal fokus op die belyning van standpunte rondom die G20-presidensie se prioriteite, die bevordering van die wêreldverdrag vir die toekoms, en voortgesette vordering met volhoubare ontwikkeling en klimaatsverbintenisse.
# Die DA waarsku die fiasko met vliegtuigbrandstof by OR Tambo Internasionale Lughawe kan tot aansienlike finansiële verliese lei en Suid-Afrika se reputasie as ‘n toeristebestemming skaad. Die party vra vir ‘n volledige ondersoek na die oorsaak van die ontwrigtings, wat tot wydverspreide vertragings met vlugte en kansellasies gelei het. DA-woordvoerder, Haseena Ismail, versoek die minister van Vervoer, Barbara Creecy, om onverwyld op te tree om toekomstige voorvalle te voorkom:
# Regshulp Suid-Afrika het die appèl oor regsverteenwoordiging vir die polisie se voormalige hoof van misdaadintelligensie, Richard Mdluli, van die hand gewys. Mdluli het vlugtig in die Hooggeregshof in Pretoria verskyn. Mdluli staan saam met Heine Barnard en Solomon Lazarus tereg op aanklagte van korrupsie, bedrog en diefstal wat verband hou met ‘n geheime omkoopfonds vir misdaadintelligensie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens tussen 2008 en 2012. Henry Mamothame van die NVG sê die verhoor begin volgende jaar:
# Die adjunkpresident van die ANC, Paul Mashatile sê die party se provinsiale uitvoerende komitee in KwaZulu-Natal sal nie ontbind word nie. Hy was gister in KwaMpumuza, Pietermaritzburg, as deel van die verkiesingsveldtog voor volgende week se tussenverkiesing. Die ANC in KwaZulu-Natal en Gauteng het tydens die verkiesing in Mei swak gevaar en het onderskeidelik van meer as 50-persent tot 17-persent en 36-persent geval. Mashatile sê dit is nou die tyd vir besinning:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die saak oor die Pretoria High School for Girls tydelik van die rol geskrap nadat die skool se beheerliggaam geëis het regter Mandlenkosi Motha moet onttrek na partydige politieke uitlatings. Die beheerliggaam het die Gautengse Onderwysdepartement hof toe geneem en geëis dat die volledige rassisme-ondersoekverslag vrygestel moet word. Die omstredenheid spruit uit rasgelaaide opmerkings wat op ‘n WhatsApp-groep gedeel is. Senior personeel word ook beskuldig van beweerde sistemiese diskriminasie.
# Krieket: Die kaptein van die Protea-vrouespan, Laura Wolvaardt, is weer die nommer-een eendagkolwer in die wêreld, nadat sy Nat Sciver-Brunt van Engeland onttroon het. Dit volg na haar tellings van 59 nie uit nie en 35 in die eerste twee eendagwedstryde teen Engeland in Suid-Afrika. Sciver-Brunt is nou in die derde plek op die ranglys na Chamari Athapaththu van Sri Lanka. Nog ‘n Suid-Afrikaner, Chloé Tryon, het met agt plekke verbeter en is nou 17de. Onder die boulers het Marizanne Kapp met drie plekke verbeter tot sesde en het haar plek behou as die veelsydigste speler.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-580-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-695-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….