Nuus 06:00
BULLETIN 5 Desember 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Rise Mzansi kritiseer Ramaphosa omdat hy nie minister Simelane afgedank het nie
# Die SABC se nuushoof Moshoeshoe Monare bedank
# En rugby: Mpilo Gumede sal die volgende drie wedstryde misloop ná ‘n rooikaart teen Connacht
# Rise Mzansi sê hulle gaan die kwessie rondom die onlangse aanstelling van die voormalige minister van Justisie, Thembi Simelane, as minister van Menslike Nedersettings, môre opper by die byeenkoms van die geskilbeslegtingsmeganisme van die regering van nasionale eenheid. Die party is bekommerd oor haar onverklaarbare finansiële transaksies as burgemeester van Polokwane, wat die vertroue van die publiek in die regering nadelig raak. Partyleier Songezo Zibi meen president Cyril Ramaphosa moes sy uitvoerende mag gebruik het om haar heeltemal te verwyder:
# Die DA het groot verkrygingsongerymdhede in die Departement van Korrektiewe Dienste ontbloot. Volgens die party het sekere korrektiewe fasiliteite tot 7,5-miljoen-rand op ‘n enkele deurloop-metaalverklikker bestee, terwyl ander departemente dieselfde produk vir slegs 18-duisend rand gekoop het. Verder het nog goedere, soos kringtelevisiekameras en tweerigtingradio’s, ook hoë koste getoon. Kabelo Kgobisa-Ngcaba versoek ‘n ondersoek na moontlike finansiële wanbestuur en ondersteun die Ouditeur-Generaal se aanbeveling oor strenger verkrygingsprosesse:
# Die SABC het die bedanking van sy groepsbestuurder vir Nuus en Aktuele Sake, Moshoeshoe Monare, vanaf einde Desember aangekondig. Monare, wat in 2022 by die SABC aangesluit het, het ‘n sleutelrol in die afdeling se leiding gespeel met deurslaggewende projekte, insluitend omvattende dekking van 2024 se algemene verkiesing. Die uitsaaier se uitvoerende hoof, Nomsa Chabeli, het sy toewyding aan joernalistieke uitnemendheid geloof en beklemtoon sy leierskap het standaarde verhoog. Die SABC het Monare se onpartydigheid en toewyding geloof om Suid-Afrikaners tydens kritieke oomblikke in te lig.
# ActionSA sê hy kan nie staan en toekyk hoe buitelanders spazawinkels in townships en landelike gebiede oorneem nie. Die party het gister in Soweto betoog dat alle spazawinkels slegs vir Suid-Afrikaners gereserveer moet word. Dit volg na die dood van meer as 20 Gautengse kinders weens vermoedelike voedselvergiftiging wat met spazawinkels verbind word. ActionSA-leier, Herman Mashaba, sê hy is nie gekant teen buitelandse sakeondernemings nie, solank hulle wettiglik funksioneer:
# Ses opposisiepartye in Suid-Korea het ‘n Wetsontwerp ingedien waarin gevra word vir ‘n ampsklag teen president Yoon Suk Yeol oor sy mislukte poging om krygswet in te stel. Die land se belangrikste opposisieparty, die Demokratiese Party, sê die president se krygswetverklaring was ‘n duidelike oortreding van die Grondwet. Die party wil Yoon van rebellie-misdade aankla. Intussen het Suid-Korea se grootste arbeidsgroep, die Koreaanse Konfederasie van Vakbonde, belowe om onbepaald te staak totdat die president uittree. Die Parlement sal Saterdag stem oor die vraag of Yoon vervolg moet word.
# Rugby: Die Bulle se losvoorspeler, Mpilo Gumede, gaan die span se volgende drie wedstryde misloop na sy rooikaart in die Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen Connacht. Hy is halfpad deur die tweede helfte afgestuur vir oogkrappery. Gumede het skuldig gepleit voor ‘n tugkomitee en sal nie beskikbaar wees vir die volgende twee Kampioenskapsbeker-kragmetings met Saracens en Northampton Saints, en die VRK-derby teen die Haaie nie. Connacht se flank, Sean Jansen, is vir ses weke geskors vir sy rooikaart in dieselfde wedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-55-dollar-74-sent. Die prys van goud is twee-duisend-651-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….