Nuus 06:00
BULLETIN 4 Desember 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Simelane word van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling na Menslike Nedersettings geskuif
# Die DA doen ‘n beroep op president Ramaphosa om spoor-, hawens- en energiehervormings te bespoedig
# En krieket: Die Protea-vroue pak Engeland in hul eerste eendagwedstryd in Kimberley
# President Cyril Ramaphosa het sy kabinet gewysig en die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane, na Menslike Nedersettings verskuif. Die minister van Menslike Nedersettings, Mmamoloko Kubayi sal haar vervang. Simelane is onder druk ná onthullings dat sy in 2016 ’n lening van Gundo Wealth Solutions wat met VBS Bank verbind word, ontvang het terwyl sy Polokwane se burgemeester was. Die adjunkminister van Arbeid en Indiensneming, Phumzile Mgcina ruil posisies met die adjunkminister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Judith Nemadzinga-Tshabalala.
# Die DA versoek president Ramaphosa om belangrike ekonomiese hervormings te versnel na die teleurstellende syfers van 0,3-persent in die bruto binnelandse produk in die derde kwartaal. Hoewel onlangse data ‘n daling in werkloosheid en groei in die boubedryfsektor toon, glo die party daadwerklike hervormings is noodsaaklik om ekonomiese herstel te bevorder. DA-woordvoerder Willie Aucamp verwelkom vooruitskattings deur die Internasionale Monetêre Fonds wat groei van 1,1-persent vanjaar en 1,5-persent volgende jaar in die vooruitsig stel:
Alan Beesley van ActionSA kritiseer intussen die daling in die land se bruto binnelandse produk en die van landbou met 29-persent. Stats SA noem gebrekkige infrastruktuur, beleidsonsekerheid en swak bestuur as die sleutelfaktore. Vragspoorvolumes het met 26-persent gedaal, en hawens het onderpresteer. Hy doen ‘n beroep vir sterk hervormings en infrastruktuurbelegging en dring aan die regering moet sy beloftes van inklusiewe groei en werkskepping nakom:
# Nog liggame sal na verwagting uit skag elf by die Stilfontein-myn in Noordwes gehaal word, nadat onwettige mynwerkers ondergrondse sterftes aangemeld het. Gemeenskapsvrywilligers het gister ‘n ontbinde liggaam herwin, nadat ‘n nota van die mynwerkers ontvang is wat dringend hulp vra. Die nota het bevestig daar is minstens nog vyf mense wat dood is. Paramedici was op die terrein en owerhede sê DNS-toetse sal gedoen moet word om die liggame te identifiseer. Pogings om die oorblywende liggame uit te kry duur voort.
# President Ramaphosa en die Nigeriese president, Bola Tinubu, het die sterk bilaterale verhouding tussen die twee lande herbevestig en is van mening dit is gebou op meer as 30-jaar se wedersydse respek en samewerking. Ramaphosa het Tinubu en sy afvaardiging verwelkom vir die 11de bi-nasionale kommissie-gesprekke. Hy het optimisme oor dieper ekonomiese samewerking uitgespreek, met die fokus op die verwydering van beleggingshindernisse en die bevordering van sterker sake-bande:
# Krieket: Die Protea-vroue pak Engeland vanmiddag in Kimberley in die eerste van drie eendagwedstryde nadat die besoekers skoonskip gemaak het in die reeks van drie T20’s. Die volgende twee kragmetings neem die spanne Sondag na Durban en volgende Woensdag na Potchefstroom. Die vroue speel dan ‘n eenmalige toets in Bloemfontein vanaf die 15de van die maand. Engeland is tans tweede op die eendag-wêreldranglys na Australië, en die Proteas vierde na Indië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-19-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-641-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….