Nuus 06:00
BULLETIN 3 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC maak gereed vir sy verjaarsdagsaamtrek in Mpumalanga
# Wetstoepassers is strategies op hoofroetes geplaas om verkeersvloei te beheer
# En, twee mans is in hegtenis geneem na die dodelike Nuwejaar-skietery in Soshanguve
# Die ANC hou sy 112de verjaardagviering in Mpumalanga. Die ANC se voorsitter in die provinsie, Mandla Ndlovu, sê hy is oorval met versoeke van ANC-ondersteuners wat die geleentheid wil bywoon. Die party het ‘n volgepakte program in aanloop tot die geleentheid op 13 Januarie. Die ANC se nasionale uitvoerende komitee begin Saterdag met ʼn massiewe deur-tot-deur-veldtog. Sekretaris-generaal Fikile Mbalula besoek Donderdag die Mbombela-stadion terwyl die ANC-president, Cyril Ramaphosa, op Saterdag die 13de die 8 Januarie-rede lewer.
# Die Departement van Vervoer en Gemeenskapsveiligheid verwag matige tot swaar verkeer met vakansiegangers wat terugkeer van hulle bestemmings. Die N1-suid na Gauteng, sowel as die R81, die R71 na Polokwane en die R25 tussen Groblersdal and Dennilton sal na verwagting dié week baie verkeer dra. Tidimalo Chuene van die departement maan motoriste teen ongeduld by tolhekke:
# Die Departement van Basiese Onderwys erken sy pogings om gegradueerde onderwysers te plaas het nog nie die vereiste uitkoms opgelewer nie. Dit volg na die toekenning van bykans 12-duisend beurse aan studente tussen April 2022 en Maart verlede jaar. Woordvoerder Elijah Mhlanga het aan eNCA bevestig slegs 76-persent van die gegradueerdes is geplaas:
# Twee mense is Dinsdagoggend gearresteer in verband met die dodelike skietvoorval op Nuwejaarsdag in Soshanguve waarin vier mense, insluitend ʼn tienermeisie, dood is. Gauteng se polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê die liggame van die slagoffers is na die skietery in die straat gevind. Voorheen is berig 80 leë geweer-koeëldoppies en 19 koeëls van ʼn 9-mm-vuurwapen is op die toneel gevind:
# Japanse owerhede het bevestig vyf mense is dood in gister se botsing tussen ʼn passasiersvliegtuig en ʼn vliegtuig van die Kuswag op die Haneda-lughawe in die hoofstad, Tokio. Al die slagoffers was aan boord van die Kuswag-vliegtuig, wat onderweg was om hulpmiddels te gaan aflewer ná die kragtige aardbewings op Nuwejaarsdag wat die lewens van minstens 48 mense geëis het. Al 379 passasiers en bemanningslede aan boord van die Airbus van Japan Airlines het ongedeerd ontsnap voor die vliegtuig in ʼn vuurbol ontplof het.
# Krieket: Indië se kaptein, Rohit Sharma, sê sy span se jong kolwers moet eenvoudig ‘n manier vind om die uitdagende speeltoestande in Suid-Afrika te hanteer. Die tweede toets begin vandag in Kaapstad en Sharma verwag nie die omstandighede sal veel verskil van dié van Centurion nie, waar Indië verlede week ‘n beurtnederlaag in die eerste toets gely het. Drie van Indië se top ses kolwers toer die eerste keer deur Suid-Afrika en hulle het almal op SuperSportpark gesukkel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-208-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-60-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….