Nuus 06:00
BULLETIN 28 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê die planne om die kabinet te verklein, is op ys
# Voedselveiligheidsprotokolle word ingestel vir matrieknasiensentrums
# En krieket: Reën maak amok op die eerste dag van die Durban-toets tussen die Proteas en Sri Lanka
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die vorming van die regering van nasionale eenheid het ‘n toename in die aantal kabinetsposte genoodsaak. President Cyril Ramaphosa se kabinet het van 30 tot 32 ministers gegroei, en die aantal adjunkministers van 36 tot 43. Dit ten spyte van Ramaphosa se onderneming tydens sy vorige termyn om die grootte van die kabinet en aantal staatsdepartemente aan te spreek. Godongwana het aan die Parlement gesê die strategiese dryfkrag van die herorganisering van die regering bly op koers.
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê voedselveiligheid is ‘n prioriteit by nasiensentrums vir die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen. Gwarube het op ‘n nuuskonferensie gesê na aanleiding van onlangse voedseloordraagbare siektes weens plaagdoders, is skole aangeraai om nie meer skadelike chemikalieë te gebruik nie. Sy het skole opdrag gegee om slegs goedgekeurde voedselverkopers op hul persele toe te laat om leerders en personeel teen moontlike gesondheidsgevare te beskerm:
# Eskom doen ‘n beroep op kliënte wat nie elektrisiteit gekoop het nie, om hul meterkwessies teen 13 Desember op te los om boetes te vermy. Na afloop van die voltooiing van die oorgang na die nuwe stelsel is ongeveer 400-duisend kliënte omgeskakel na betalende kliënte, maar 1,7-miljoen kliënte voldoen steeds nie aan die vereistes nie. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, waarsku kliënte wat versuim het om voor die sperdatum van 24 November koeponne te koop of diegene wat steeds onopgeloste meterkwessies het, dat hulle boetes en meter-oudits kan verwag:
# Die Gautengse regering sê hy bepaal die omvang van die skade nadat ‘n hewige storm dele van Randfontein gistermiddag getref het. Minstens 24 mense is beseer. Huise, ‘n woonstelblok en ‘n winkelsentrum in Toekomsrus is in die storm beskadig. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê ‘n hewige donderstorm het moontlik ‘n tornado tot gevolg gehad. Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi sê hulle verleen hulp aan almal wat geraak is:
# Die hoofaanklaer van die Internasionale Strafhof het regters gevra om ‘n lasbrief vir die arres van Mianmar se junta-hoof, Min Aung Hlaing, uit te reik oor beweerde misdade teen die mensdom wat teen Rohingya-Moslems gepleeg is. Karim Khan se versoek aan die hof se regters in Den Haag is die eerste aansoek om ‘n arrestasiebevel teen ‘n hoëvlak Mianmese regeringsamptenaar oor die misbruik van die Rohingyas. Dit sluit in deportasie en vervolging, wat na bewering tussen 25 Augustus en 31 Desember 2017 plaasgevind het.
# Krieket: Suid-Afrika hervat vanoggend op 80 vir vier nadat reën spel onmoontlik gemaak het vir die volle middag van die openingsdag van die eerste toets teen Sri Lanka in Durban. Die Proteas het begin kolf en Aiden Markram in die derde boulbeurt verloor. Daarna is Tony de Zorzi, Tristan Stubbs en David Bedingham ook terug pawiljoen toe met net 54 op die telbord. Kaptein Temba Bavuma en Kyle Verreyne het teen etenstyd die telling tot 80 vir vier geneem, maar geen verdere spel was moontlik nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-943-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-637-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….