Nuus 06:00
BULLETIN 27 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Uitspraak word voorbehou in die EFF se Konstitusionele Hofsaak oor Phala Phala
# Rusland sê hy sal weerwraak neem ná nog ‘n Oekraïne-aanval met Amerikaanse missiele
# En krieket: Die Protea-vroue speel vanaand in Benoni teen Engeland in hul tweede T20
# Die Konstitusionele Hof het uitspraak voorbehou in die EFF se aansoek om die Nasionale Vergadering se besluit om nie die Artikel 89-verslag te aanvaar nie, irrasioneel en onwettig te verklaar en tersyde te stel. Die verslag het bevind daar is prima facie bewyse wat daarop dui dat president Cyril Ramaphosa antwoorde moet gee oor die miljoene Amerikaanse dollar wat by sy Phala Phala-plaas in Limpopo ontdek is. Ramaphosa se regsverteenwoordiger, advokaat Geoff Budlender, het aan die hof gesê die president se boerdery was nog nooit ‘n geheim nie:
# Die DA het beloof om geslagsgeweld heeljaar te beveg en nie net tydens die 16 Dae van Aktivisme-veldtog nie. Die party sê die bestryding van geslagsgeweld vra spanwerk tussen die regering en gemeenskappe om geweld te verhoed, oorlewendes te steun en oortreders aanspreeklik te hou. DA-leier John Steenhuisen het die party se verbintenis herbevestig om ‘n veiliger Suid-Afrika te bou waarin alle landsburgers sonder vrees kan leef en gelyke geleenthede kan geniet:
# Die LUR vir finansies in Gauteng, Lebogang Maile sê die provinsie het befondsing van ses-miljard-rand van die Nasionale Tesourie verloor. Dit is te wyte aan die oorskatting van sy bevolkingsgrootte deur Statistieke Suid-Afrika. Die jongste Sensus 2022-data sê Gauteng is die digbevolkste provinsie in die land met 15,1-miljoen inwoners. Maile het gister die provinsie se mediumtermynbegroting gelewer. Hy sê hulle het ook befondsing van die provinsiale billikheidsaandeel verloor:
# Die verhoor van sewe mans wat beskuldig word van die Lusikisiki-massamoord sal in Februarie volgende jaar in die Streekhof in Lusikisiki begin. Hulle word aangekla van die moord op 18 mense in die Ngobozana-nedersetting op 28 September. Een van die beskuldigdes, Mzukisi Ndamase, dien reeds lewenslank tronkstraf uit vir ander misdade en het die moorde georkestreer. Die Nasionale Vervolgingsgesag se streekwoordvoerder, Luxolo Tyali, sê alle beskuldigdes bly in aanhouding, nadat hulle hul borgtog laat vaar het:
# Rusland het onderneem om wraak te neem nadat Oekraïne Russiese militêre installasies aangeval het met wapens wat deur Amerika verskaf is. President Vladimir Putin het Kiev en die Weste vroeër teen die missielaanvalle gewaarsku. Moskou en Kiev het die afgelope paar dae hul dodelike lugarsenaal opgeskerp met toenemend gesofistikeerde wapentuig, wat vrese aanwakker die konflik kan verder eskaleer. Oekraïne het verlede week vir die eerste keer Amerikaans-vervaardigde missiele op Rusland afgevuur nadat Washington hom die groen lig gegee het. Die Kremlin het teruggeslaan met ‘n eksperimentele hipersoniese missiel wat die Oekraïnse stad, Dnipro, getref het.
# Krieket: Die Protea-vroue en Engeland pak mekaar vanaand in die tweede van drie T20’s in Benoni, Gauteng. Die besoekers het Sondag die eerste wedstryd in Oos-Londen met vier paaltjies gewen na hulle die gasvroue tot 142 vir vyf beperk, en toe die teiken gehaal het met vier balle oor. Die laaste kragmeting vind Saterdag in Centurion plaas. Die twee lande speel daarna eendagwedstryde in Kimberley, Durban en Potchefstroom, gevolg deur ‘n eenmalige toets in Bloemfontein vanaf die 15de van volgende maand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-712-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-631-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….