Nuus 06:00
BULLETIN 2 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom stel fase 2-beurtkrag in
# Die Suid-Afrikaanse Sionistiese Federasie veroordeel die regering omdat hy Israel by die Wêreldhof aangee
# En, kragtige aardbewings in Japan lei tot tsunami-waarskuwings
# Eskom het vyfuur vanoggend fase twee-beurtkrag ingestel wat tot vieruur vanmiddag sal duur. Dan begin fase drie tot vyfuur Woensdagoggend. Hierdie patroon van fase twee soggens en fase drie saans geld tot verdere kennisgewing. Die kragverskaffer sê hy is tans besig met verskerpte onderhoudswerk om die vloot se werking te verbeter, maar het ‘n terugslag beleef toe drie opwekkingseenhede nie soos beplan by die netwerk gevoeg kon word nie. Volgens Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, is nog ses eenhede buite werking en met die verwagte hoër aanvraag, moes hy fase twee instel:
# Die Islamic Resistance Movement het Suid-Afrika se besluit verwelkom om ʼn versoek by die Wêreldhof in te dien om Israel te ondersoek vir beweerde volksmoord teen Palestyne in Gaza. Die beweging beskou Suid-Afrika se optrede as ʼn betekenisvolle stap om Israel aanspreeklik te hou vir sy optrede. Hulle vra kollektiewe pogings om seker te maak Israel spring nie verantwoordelikheid vry vir misdade teen kinders en burgerlikes in die Gaza-strook nie.
Intussen sê die Suid-Afrikaanse Sionistiese Federasie die regering se aanklag teen Israel voor die Wêreldhof is ‘n ernstige misstap. Die federasie sê dit lyk asof die stap gedoen is om die aandag af te lei van die regering se eie skouspelagtige binnelandse mislukkings, en om Suid-Afrika se kwynende internasionale aansien te probeer red. Die beweging beweer die ANC-regering se pro-Hamas-standpunt stel noodsaaklike ekonomiese hulp ingevolge die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika in gevaar. Die Federasie beweer die regering stel die sienings van die meerderheid Suid-Afrikaners wat ‘n vreedsame oplossing vir die Palestyns-Israeliese konflik soek, verkeerd voor.
# ‘n Nuwe dwelm bekend as Pink Cocaine of Tuci, het sy verskyning op Kaapstad se strate gemaak. Dit is glo ‘n variant van kokaïne wat oorspronklik in Spanje vervaardig is. Kenners waarsku die dwelm bevat ‘n grillerige mengsel van handelaars se oorskiet wat ernstige gesondheidsprobleme kan veroorsaak. Die stasiebevelvoeder van Grassy Park, Dawood Laing, sê die polisie het die dwelms na ‘n wenk in Grassy Park gevind. Laing het aan eNCA gesê die dwelm het somtyds ‘n aarbei-reuk en waarsku oor die ernstige gevaar wat dit inhou:
# ʼn Aardbewing van 7,6 in Japan het huise ineen laat stort, paaie verwoes en tot tsunami-waarskuwings gelei. Tienduisende mense wat naby die See van Japan bly, is gewaarsku om na hoërliggende gebiede te gaan. Meer as 50 aardbewings het sedert gister in sentraal-Japan voorgekom en nog meer word verwag. ʼn Groot tsunami-waarskuwing wat vir die Noto-area uitgereik is, is intussen afgradeer. Geen probleme is by kernkragaanlegte langs die See van Japan aangemeld nie.
# Krieket: Die dinamiese Australiese aanvangskolwer, David Warner, het Maandag sy uittrede uit internasionale eendagwedstryde aangekondig. Hy speel vandeesweek sy laaste toets teen Pakistan, maar hou ʼn agterdeur oop om in 2025 vir die Kampioenetrofee beskikbaar te wees. Australië se afrigter, Andrew McDonald, sê die 37-jarige Warner is waarskynlik die land se beste drieformaat-speler ooit. In Suid-Afrika sal hy onthou word vir sy rol in die omstrede balpeuter-saak in 2018. Hy en kaptein Steve Smith was albei ʼn jaar lank geskors ná hulle aandeel in die drama in Kaapstad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 44-duisend-987-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-68-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….