Nuus 06:00
BULLETIN 19 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê voedselsekerheid sal een van die prioriteite van SA se G20-presidentskap wees
# Duitsland gaan vier-duisend Kunsmatige Intelligensie-geleide hommeltuie aan Oekraïne verskaf
# En tennis: Tennis SA stel ‘n nuwe toernooi met prysgeld van meer as 200-duisend-rand bekend
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika is daartoe verbind om armoede, wanvoeding en hongersnood te beëindig in ooreenstemming met die Nasionale Ontwikkelingsplan. Hy het deelgeneem aan ‘n werksessie getiteld, Sosiale insluiting en die stryd teen armoede en honger, by die G20-leiersberaad in Brasilië. Volgens die Wêreldbank leef byna 700-miljoen mense tans in uiterste armoede. Afrika suid van die Sahara huisves 67-persent van hierdie mense. Ramaphosa sê voedselsekerheid sal een van die hoëvlakprioriteite van Suid-Afrika se G20-presidentskap wees.
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n bewaringsbevel bekom teen bates wat verbind word met die voormalige ANC-woordvoerder, Pule Mabe. Die bevel is deur die Spesiale Tribunaal toegestaan en verbied die verkoop of oordrag van sy huis in Steyn City en sy Porsche Carrera. Hy word aangekla van verkrygingsonreëlmatighede met ‘n afvalprojek van 27-miljoen-rand in Gauteng, met bewyse wat dui op nie-nakoming, bedrog en wanbestuur van openbare fondse. Die Ondersoekeenheid wil die tender ongeldig laat verklaar om verliese van meer as 25-miljoen-rand te verhaal.
# Die LUR vir Gemeenskapsveiligheid in Noordwes, Wessels Morweng, sê planne om onwettige mynwerkers in ‘n ongebruikte Stilfontein-myn te red, vereis behoorlike risikobepalings voor reddingspogings begin kan word. Hy het ‘n beroep gedoen vir samewerking om die terrein skoon te maak en masjinerie veilig te ontplooi. ‘n Interregeringspan en gemeenskapsleiers is besig om ‘n strategie te bepaal om die vier-weke-lange dooiepunt op te los, nadat die polisie die voedsel- en watertoevoer afgesny het. Morweng het weereens bevestig die regering het niemand ondergronds gestuur om by onwettige mynbou betrokke te raak nie:
# Die GOOD-party het weer sy teleurstelling in die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, beklemtoon omdat hy nie hul kommer oor die komende Chris Brown-konsert aanspreek nie. Die sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die party het Schreiber aangemoedig om Brown as ‘n ongewenste persoon te verklaar weens sy geskiedenis van geslagsgeweld. Herron het die behoefte aan opbouende dialoog beklemtoon en benadruk dat geslagsgeweld ernstig opgeneem moet word:
# Duitsland sê hy gaan vier-duisend KI-geleide hommeltuie in Oekraïne aflewer. Berlyn is die tweede grootste verskaffer van militêre hulp aan Oekraïne na die Russiese inval. Die minister van Verdediging, Boris Pistorius, sê die hommeltuie word deur kunsmatige intelligensie beheer en ondersteun en kan die vyand se elektroniese hommeltuig-verdediging vernietig. Die hommeltuie kan 30- tot 40-kilometer agter die voorste linie ontplooi word en in sekere gebiede kan hulle trefkrag tot in Russiese grondgebied strek.
# Tennis: Tennis Suid-Afrika het die American Express Nasionale Klubkampioenskap van stapel gestuur, met prysgeld van meer as 200-duisend-rand. Beide mans en vroue sal in ‘n dubbelspel-spankompetisie deelneem. Dit sal provinsiale uitspeelwedstryde tussen Januarie en Julie 2025 insluit, met die wenners wat kwalifiseer vir die nasionale eindronde by Sun City in Noordwes van 29 Augustus tot die een September. Die president van Tennis SA, Gavin Crookes, sê hierdie geleentheid sal ‘n nuwe generasie spelers inspireer en tennisklubs landwyd opnuut aktiveer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-759-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-610-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….