Nuus 06:00
BULLETIN 15 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Openbare Werke kondig maatreëls aan om projekvertragings en korrupsie aan te pak
# ‘n Bekende hoofpyndokter word van die moord op ‘n pasiënt aangekla
# En sokker: Bafana Bafana kwalifiseer vir 2025 se Afrikabekertoernooi
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het streng nuwe maatreëls aangekondig teen wydverspreide vertragings en korrupsie met projekte vir openbare infrastruktuur. Macpherson het in die parlement bekendgemaak 79-persent van die departement se 206 projekte word vertraag, teen ‘n koste van drie-miljard-rand. Om dit teen te werk het die minister stappe aangekondig, wat ‘n swartlys vir kontrakteurs insluit, met streng toesig oor prestasie en die skep van ʼn kontrakbestuurseenheid:
Die Nasionale Konstruksieberaad word intussen Dinsdag in Durban, KwaZulu-Natal aangebied met die klem op misdaadsindikate wat infrastruktuurprojekte ontwrig. Macpherson sal die beraad lei, saam met die minister van Polisie, Senzo Mchunu, en die minister van Finansies, Enoch Godongwana. Macpherson het in sy parlementêre rede gesê die doel is om ontwrigting en geweld stop te sit, om veiliger boupersele te verseker en om die vertragings en uitgawes weens misdaad te verminder:
# Die bekende hoofpynspesialis, Elliot Shevel, het gister in die Landdroshof in Randburg verskyn op aanklagte van moord op ‘n pasiënt, Marinella Avvakoumides, wat dood is nadat sy behandeling by sy kliniek ontvang het. Die 81-jarige word beskuldig dat hy in Julie 2021 ‘n gevaarlike desentiseringsprosedure op Avvakoumides uitgevoer het. Sy het haar bewussyn verloor en agt dae ná die behandeling is haar lewensondersteuningsmasjiene afgeskakel. Die aanklaer, Yusuf Baba, het aan die hof gesê nog sake word ondersoek. Shevel is borgtog van vyf-duisend-rand toegestaan. Sy volgende hofverskyning is op 5 Desember.
# Die Ministerie van Polisie gelei deur minister Senzo Mchunu sal vandag die Stilfontein-myn in Noordwes besoek vir die evaluering van die deurlopende reddingsoperasie rondom meer as vier-duisend onwettige mynwerkers wat weier om uit te kom. Tydens die besoek sal daar gekyk word na reddingspogings en strategieë om die veiligheidsrisiko’s verbonde aan onwettige mynbou in plaaslike gemeenskappe aan te spreek. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê sedert die bekendstelling van Operasie Vala Umngodi is meer as 13-duisend onwettige mynwerkers gearresteer en bates ter waarde van miljoene-rand is gekonfiskeer:
# Top Amerikaanse Demokratiese senaatslede in die tweeparty-regskomitee doen ‘n beroep op die etiekkomitee van die Huis om sy bevindinge oor Matt Gaetz bekend te maak. Dit volg op die verkose president Donald Trump se keuse van dié voormalige Republikeinse wetgewer as die prokureur-generaal. Die komitee het bewerings ondersoek dat Gaetz betrokke was by seksuele wangedrag, omkopery en onwettige dwelmgebruik. Hy ontken al die bewerings. Dick Durbin, voorsitter van die Senaat se regskomitee, sê hulle kan nie toelaat dat die waardevolle inligting van die Amerikaanse volk weerhou word nie.
# Sokker: Bafana Bafana het vir die 2025 Afrikabekertoernooi gekwalifiseer sonder om ‘n bal te skop. Dit volg op Suid-Soedan se drie-twee oorwinning oor die Republiek die Kongo in Juba. Suid-Afrika het tans agt punte en twee wedstryde oor om in Groep K te speel, terwyl die Kongo, met slegs vier punte, nie die 1996 Afcon-kampioene kan oortref nie, al wen hulle hul laaste wedstryd. Bafana Bafana en Uganda, wat vandag in hul voorlaaste groepkragmeting in Kampala ontmoet, is gewaarborg om beide deur te dring.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-988-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-566-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….