Nuus 06:00
BULLETIN 12 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF kritiseer minister Malatsi omdat hy die SABC-wetsontwerp onttrek
# Mark Lifman se naam word verwyder uit die Brian Wainstein-klagstaat
# En krieket: Marizanne Kapp en Ayabonga Khaka gaan uitrus tydens die T20-reeks teen Engeland
# Die EFF sê hy is ontsteld maar nie verbaas oor die besluit van die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, om die SABC-wetsontwerp aan die Parlement te onttrek nie. Die minister sê hy het die wetsontwerp onttrek sodat ‘n finansieringsmodel vir die openbare uitsaaier ontwikkel kan word. Die EFF sê Malatsi se besluit het niks te doen met die uitoefening van sy uitvoerende magte nie, maar om witmonopoliekapitaal tevrede te stel. Die EFF sê die DA is hard besig om die uitsaaier te ondermyn, en doelbewus te verhoed dat hy sy volle potensiaal bereik.
# Kopanang Africa Against Xenophobia is gekant teen die regering se uitgebreide plan om informele handelaars te reguleer, wat nou straatverkopers saam met spaza-winkels teiken. Die groep beweer die ingryping kan moontlik armoede kriminaliseer en ignoreer die grondoorsake van werkloosheid en ekonomiese ongelykheid. Woordvoerder Dorothy Mabelebele glo die regering moet met handelaars saamwerk om oplossings te vind en te fokus op kwessies soos onveilige produkte van verskaffers in plaas daarvan om die verkopers te penaliseer:
# Die onderbreking van watervoorsiening in Gauteng is die gevolg van stygende vraag en mislukkings van verouderende infrastruktuur. Die Departement van Water en Sanitasie het saam met die provinsiale regering en Rand Water besonderhede verstrek oor uitdagings met watervoorsiening in die provinsie. Die verslag van die departement toon Johannesburg verloor 35-persent van sy gelewerde water weens verouderde infrastruktuur met swak instandhouding. Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, het die media meegedeel Rand Water het 3,5-miljard-rand belê om die kapasiteit by die Zuikerbosch-waterbehandelingsaanleg te verhoog:
# Die vermoorde boewebaas Mark Lifman se naam is amptelik verwyder van die lys aangeklaagdes in die moord op Brian Wainstein. Lifman is verlede Sondag in George doodgeskiet. Die hof het sy doodsertifikaat ontvang en bevestig sy naam is van die lys verwyder. Die verhoor kan vertraag word nadat ‘n sleutelgetuie, net bekend as Meneer X, beweer het die moord op Lifman gee hom angsaanvalle en ‘n dokter het hom ‘n maand op siekverlof geplaas. Die verrigtinge hervat vandag, wanneer besware moontlik ingedien kan word.
# Die Presidensiële Klimaatskommissie het aangesluit by die Suid-Afrikaanse afvaardiging by COP29 in Baku, Azerbeidjan onder leiding van minister Dion George. Onder die tema, In Solidariteit vir ‘n Groen Wêreld, fokus COP29 op ambisieuse klimaatfinansieringsteikens en die bedryf van die Verlies- en Skadefonds. Crispian Olver van die kommissie beklemtoon die dringendheid en wys op die klimaatgedrewe rampe van 2024 wat kwesbare gemeenskappe geraak het. Die kommissie sal gesprekke by die Suid-Afrikaanse paviljoen aanbied, met die fokus op pogings tot aanpassings en versagting.
# Krieket: Marizanne Kapp, Ayabonga Khaka en Seshnie Naidu is nie in die Proteaspan vir die T20-reeks teen Engeland wat die 24ste begin nie. Kapp en Khaka kry ruskans en Naidu skryf haar matriek-eindeksamen. Bestuur het die medium-snelbouler Eliz-Mari Marx en die veelsydige Nondumiso Shangase herroep. Kaptein Laura Wolvaardt, Nadine de Klerk en Chloé Tryon keer betyds terug van die Vroue-Big Bash-liga in Australië vir die reeks van drie kragmetings. Dit word gevolg deur drie eendagwedstryde en ‘n eenmalige toets.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-365-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-620-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….