Nuus 06:00
BULLETIN 7 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Ekonoom waarsku Suid-Afrika se Groei- en Geleentheidsvoordele kan onder druk kom
# Minister Gwarube sê haar departement het begin om die BELA-wet toe te pas
# En die sekretaris-generaal van die MK-party het bedank
# ‘n Ekonoom van die Stellenbosch Bestuurskool, Andre Roux, sê die Amerikaanse verkose president, Donald Trump, se oorwinning kan ‘n negatiewe uitwerking op die ekonomie van Suid-Afrika en Afrika hê. Roux waarsku Trump se beleide wat handel met ander lande beperk, insluitend tariewe op invoer, kan die handelsverhoudinge benadeel, veral ingevolge die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika. Hy het ook Trump se lae prioriteit oor klimaatsverandering beklemtoon, wat langtermyngevolge vir Afrika kan inhou:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê haar departement het begin met die toepassing van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette. President Cyril Ramaphosa het die wet in September onderteken, maar het ingestem om twee omstrede klousules terug te hou terwyl dooiepunte bespreek word. Gwarube sê hulle wag steeds op die presidensiële proses oor klousules vier en vyf, wat handel oor taal- en toelatingsbeleid:
Die DA het intussen Ramaphosa gevra om sy belofte gestand te doen om openbare raadpleging oor die BELA-wet toe te laat. Woordvoerder Willie Aucamp kritiseer die ANC se aandrang op onmiddellike aanvaarding van die wet en waarsku dit ondermyn ouers se regte en gemeenskaps-insette oor skole se taal- en toelatingsbeleid. Hy vra Ramaphosa vir ‘n samewerkende en raadplegende benadering deur sy party:
# Die MK-party se sekretaris-generaal, Sifiso Maseko, het bedank, vier maande nadat hy die pos aanvaar het. Hy het Arthur Zwane opgevolg, wat te midde van bewerings van wangedrag van sy pligte onthef is. Maseko sê hy sal terugkeer na sy voltydse werk as hoofdirekteur vir infrastruktuur in die Gautengse Gesondheidsdepartement. Hy is twee jaar gelede deur die departement geskors ná ‘n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid na beweerde ongerymdhede met die verkryging van persoonlike beskermende toerusting. Sy skorsing is intussen opgehef, hangende die uitslag van ‘n tugondersoek.
# Die burgemeesterskomiteelid vir die Stad Johannesburg se Departement van Omgewing en Infrastruktuurdienste, Jack Sekwaila, en die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Margaret Arnolds, sal vandag ‘n inkomste-invorderingsveldtog lei, gerig op ondernemings wat baie skuld en inwoners in die middestad se diensleweringsgebiede. Die projek poog om meer as 105-miljoen-rand in te vorder, van kliënte in Bellevue, Berea, Jeppestown en die middestad van Johannesburg wat swak betaal.
# Gholf: Rory McIllroy glo ‘n oplossing is moontlik in die onenigheid tussen die PGA-toer en LIV-Gholf na Donald Trump se oortuigende oorwinning in die Amerikaanse verkiesing. Volgens nuusberigte het die Openbare Beleggingsfonds, Saoedi-Arabië se koninklike fonds en borge van LIV ‘n ooreenkoms met die PGA bereik om meer as ‘n miljard-dollar in die pas gestigte PGA-toeronderneming te belê. Die wêreld nommer drie, wat dié week in die Abu Dhabi-kampioenskap speel, het ‘n jaar gelede uit die PGA-beleidsraad bedank.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-655-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-662-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….