Nuus 06:00
BULLETIN 6 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mcphearson sê die Openbarewerkeprogram is van kritieke belang om werkloosheid te bekamp
# Een van die beskuldigdes in die Mark Lifman-moord is ‘n voormalige taakmaglid
# En Donald Trump sê hy is vol vertroue dat hy sal wen
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê die Uitgebreide Openbarewerkeprogram is ‘n belangrike deel van Suid-Afrika se pogings om armoede en werkloosheid te bekamp. Die minister het die eerste vergadering van die minister en LUR’e van Openbare Werke en Infrastruktuur uit al nege provinsies in Kaapstad toegespreek. Macpherson sê hy beoog om die program se omvang en uitwerking uit te brei, wat sal bydra tot breër ekonomiese stabiliteit en groei. Hy sê landsburgers het lank genoeg gewag vir werk en dienslewering.
# ActionSA doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om ‘n noodtoestand af te kondig ná verskeie kindersterftes wat verband hou met besmette goedere van spaza-winkels in buitelandse besit. Hulle waarsku hierdie openbare gesondheidskrisis is besig om te vererger, en dring aan op meer klopjagte op spaza-winkels en hul verspreidingsnetwerke, om die verkoop van onveilige produkte of produkte wat verval het, te bekamp. Die ActionSA-lid, Lerato Ngobeni, glo sterker regeringsoptrede is noodsaaklik om openbare gesondheid te beskerm en verdere lewensverlies te voorkom:
NotInMyName International vra intussen ook vir ‘n noodtoestand. Die organisasie beskryf dit as biologiese oorlogvoering teen landsburgers. Hulle versoek landsburgers, veral in townships, om spaza-winkeleienaars by te staan om gemeenskappe te verlaat om openbare gesondheid te beskerm en die plaaslike ekonomie te laat herleef. Die sekretaris-generaal van die beweging, Themba Masango, betuig meegevoel met families wat geraak word en eis onmiddellike optrede met regulasies vir voedselveiligheid.
# Die polisie het bevestig dat een van die mans wat met die moord op die bendebaas Mark Lifman verbind word, ‘n lid van die polisie se spesiale taakspan was. Johannes Hendrick Jacobs en Gert Johannes Bezuidenhout het gister [Dinsdag] vlugtig in die George-landdroshof verskyn op aanklagte van moord met voorbedagte rade. Die 57-jarige Lifman is Sondag by die Garden Route-winkelsentrum doodgeskiet. Die Wes-Kaapse polisiekommissaris, Thembisile Patekile, sê nog arrestasies is moontlik aangesien die ondersoek voortduur:
# Die voormalige Amerikaanse president en Republikeinse presidensiële kandidaat, Donald Trump en sy vrou Melania het in Palm Beach, Florida, gestem. Trump en die Demokratiese kandidaat, visepresident Kamala Harris, het elk minstens 270 verkiesingstemme nodig om te wen. Die uitslag in Arizona, Georgia, Michigan, Nevada, Noord-Carolina, Pennsylvania en Wisconsin sal na verwagting deurslaggewend wees vir ‘n oorwinning. Trump het aan verslaggewers gesê hy is vol vertroue:
# Rugby: Die Engelse slot Jonny Hill gaan Sale Sharks se volgende drie Premierskapswedstryde misloop nadat hy vir tien weke geskors is na ‘n onderonsie met ‘n toeskouer. Vier weke van die straf is opgeskort. Hill het die toeskouer aangerand na ‘n wedstryd teen Bath in Junie. ‘n Onafhanklike tugpaneel het sy skulderkenning aanvaar en afgewyk van die voorgeskrewe beginpunt van ‘n skorsing van 20-weke, as gevolg van buitengewone omstandighede en wesenlike versagting. Hill het sedert 2020 in 13 toetse vir Engeland gespeel, en sedert 2022, 21 wedstryde vir Sale.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-715-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-743-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….