Nuus 06:00
BULLETIN 5 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê baie meer moet gedoen word om kinders te beskerm
# AfriForum lei vandag die BELA-aksieberaad teen taalbeleid in Pretoria
# En dit is verkiesingsdag in die VSA met kiesers wat tussen Harris of Trump moet kies
# President Cyril Ramaphosa sê die regering het aansienlike vordering gemaak met die beskerming van kinderregte in Suid-Afrika. Nasionale Kinderdag is op die eerste Saterdag van November gevier. In sy weeklikse nuusbrief sê die president daar moet egter baie meer gedoen word, aangesien daar verskeie strafregtelike sake is waar kinders by sekshandel betrek is, of verkrag en vermoor is. Ramaphosa sê sulke tragiese gevalle vereis progressiewe wetgewing wat maatskaplike en ander vorme van ondersteuning geniet.
# AfriForum gaan vandag ‘n BELA-aksieberaad in Pretoria aanbied waar talle Afrikaanse organisasies beplan om te betoog teen die wet se taalbeleid. Woordvoerder Alana Baily kritiseer die wet as ‘n bedreiging vir Afrikaanse kultuurgemeenskappe. Sy sê die betoging is gemik teen ‘n beweerde bedreiging vir die bestaan van Afrikaanse skole en kultuur:
# Die uitvoerende hoof van die Moti-groep en voorsitter van die Staatspensioenfonds, Dondo Mogajane, het bedank na bewerings van omkopery in verband met die ineenstorting van die VBS Mutual Bank. Die veroordeelde voorsitter van VBS, Tshifhiwa Matodzi, beweer Mogajane het omkoopgeld van een-miljoen-rand ontvang om optrede van die Tesourie teen VBS te staak. Mogajane verwerp die bewerings en sê dit is kwaadwillig. Hy het planne bekendgemaak om sabbatsverlof te neem om ‘n boek te skryf oor sy ervaring in die staatsdiens.
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die voormalige hoof van die polisie se Misdaadintelligensie-eenheid, Richard Mdluli, se aansoek om sy verhoor uit te stel, van die hand gewys hangende die uitslag van sy appèl oor die SAPD se weiering om sy regskoste te dek. Mdluli se prokureur het ook weens ‘n gebrek aan fondse onttrek. NVG-woordvoerder Henry Mamothame sê regter Mudunwazi Makamu het ook na die uitgerekte aard van die saak verwys:
# Miljoene Amerikaners besoek vandag die stembus om in ’n geskiedkundige presidensiële verkiesing óf vir vise-president Kamala Harris óf oudpresident Donald Trump te stem. Meer as 75-miljoen Amerikaners het reeds vroeg gestem. As Harris wen, sal sy nie net die eerste vroulike Amerikaanse president wees nie, maar ook die eerste swart vrou en Asiatiese Amerikaanse president. Trump kan die eerste president sedert die 19de eeu wees wat wen nadat hy ‘n herverkiesing verloor het, en die eerste van ‘n groot party met ‘n strafregtelike skuldigbevinding.
# Rugby: Die Springbokke het hulle voorbereidings vir vandeesweek aangepas omdat die naweek se toets teen Skotland op Murrayfield eers Sondag plaasvind. Hulle het Sondag in Edinburgh aangekom na ‘n week lange oefenkamp in Jersey en het gister die dag af gehad voor hulle vandag afrigting hervat. Vaskopstut Wilco Louw sê die kamp bied hulle die geleentheid om as ʼn groep saam te werk en hulle is opgewonde oor die aanloop tot die kragmeting op Murrayfield. Hoofafrigter Rassie Erasmus sal sy wedstrydgroep van 23 na verwagting môre of Donderdag bekend maak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-789-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-736-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….