Nuus 06:00
BULLETIN 4 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA dien die Teen-korrupsiewetsontwerp by die Parlement in
# Die polisie vra mense om kalm te bly ná nog ‘n vermeende gifdood
# En Spanje se koning en koningin vlug voor ’n woedende skare
# Die DA sê hy het die Wetsontwerp op die Een-en-Twintigste Wysiging van die Grondwet, ook bekend as die teen-korrupsiewetsontwerp, in die Parlement ter tafel gelê. Glynnis Breytenbach van die DA sê soos beloof in die party se 2024-verkiesingsmanifes, wil die wetsontwerp ‘n teen-korrupsiekommisie instel as ‘n onafhanklike Artikel 9-instelling, wat net fokus op die ondersoek en vervolging van ernstige korrupsiesake. Sy sê op die oomblik is die Nasionale Vervolgingsgesag die enigste instelling met die mag om diegene te vervolg wat aangekla word van ernstige korrupsie en hoëvlak georganiseerde misdaad:
# Die organisasie Reg tot Vroeëkinderjare-ontwikkeling sê die regering het geen planne om te belê in universele toegang tot gehalte vroeëkinderjare-ontwikkeling nie en ook nie vir die beëindiging van kinderhongersnood teen 2030 nie. Tshepo Mantjé van die organisasie sê kinderarmoede en -hongersnood het toegeneem tydens die tydperk van besuiniging sedert 2016. Na 30 jaar van demokrasie is een uit vier kinders se groei belemmer deur chroniese wanvoeding:
# Die Gautengse polisiekommissaris Tommy Mthombeni het die mense van Alexandra gevra om kalm te bly ná die dood van ‘n negejarige meisie. Sy het na bewering vergiftigde versnaperinge van ‘n plaaslike spaza-winkel geëet. Die meisie se ma en haar vierjarige broer is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal. Woedende gemeenskapslede het die strate ingevaar en probeer om die betrokke winkel toe te maak. Mthombeni doen ‘n beroep op die publiek om nie te spekuleer nie, maar om ondersoekers ruimte te gee om die waarheid agter hierdie voorval te ontbloot.
# Die president van die MK-party, Jacob Zuma, sê die provinsiale leier van KwaZulu-Natal, Willies Mchunu, is toevertrou met die alleenmandaat om namens die party besluite te neem in die provinsie, in konsultasie met die provinsiale werkspan. Die party se oorspronklike provinsiale tussentydse komitee is ontbind en vervang met die pas aangestelde sameroeper. Zuma sê die party moet bronne aggressief mobiliseer om selfstandigheid en doeltreffende administrasie te verseker, sowel as die implementering van die politieke programme.
# Spanje se koning Felipe en koningin Letizia moes uit Paiporta in die Valencia-streek na veiligheid geneem word, ná woedende betogings oor ongekende oorstromings. Hulle is uitgejou en met modder en voorwerpe bestook. Hulle het gevolglik hul beplande besoek aan Chiva, ‘n ander gebied wat deur oorstromings getref is, laat vaar. Minstens 214 mense is dood in die kitsvloede met tientalle steeds vermis. Die stadige en ongekoördineerde reaksie op die krisis het baie in Valencia woedend gemaak. Streekgoewerneur Carlos Mazon sê hy kan mense se woede verstaan.
# Rugby: Die Engelse stut Joe Marler het uitgetree uit internasionale rugby. Dit is die tweede keer dat hy aftree nadat hy sy 2018-besluit om van toetsrugby weg te stap, omgekeer het. Die 34-jarige, wat sy debuut vir Engeland in 2012 gemaak het, het in 95 wedstryde uitgedraf. Hy het in die 2015, 2019 en 2023 Wêreldbekertoernooie gespeel en was deel van die drie Sesnasies-wenspanne in 2016, 2017 en 2020. Marler sê dit is tyd dat hy aanbeweeg:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-732-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-739-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….