Nuus 06:00
BULLETIN 1 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê die regering van nasionale eenheid gaan voort met ekonomiese hervorming
# Die Jacob Zuma-stigting bevestig Zuma se appèl teen sy skorsing uit die ANC
# En die Departement van Korrektiewe Dienste verwerp Louis Liebenberg se bewerings
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering het verskeie stappe gedoen om buitelandse belegging te stimuleer, insluitend eenvoudige belastingreëls en ‘n mededingende regulatoriese raamwerk. Hy het gister vrae oor ‘n reeks kwessies in die Nasionale Vergadering beantwoord, insluitend oor die ekonomie, die waterkrisis en uitdagings in munisipaliteite. Mashatile sê die regering van nasionale eenheid is van voorneme om voort te gaan met fundamentele ekonomiese hervorming en om die sake-omgewing te verbeter:
# Die Jacob Zuma-stigting het bevestig die ANC sal vandag oudpresident Jacob Zuma se aanlyn appèlverhoor teen sy uitsetting aanhoor. Zuma, is in Julie geskors weens sy ondersteuning aan die MK-party eerder as die ANC. Die klag sluit in dat Zuma die MK in die openbaar onderskryf en die ANC-veldtog verwerp het. Die stigting se woordvoerder, Mzwanele Manyi, het Zuma se versoek vir ‘n openbare verhoor bevestig.
# Die Departement van Korrektiewe Dienste het bewerings deur die diamanthandelaar Louis Liebenberg verwerp. Hy beweer hy is in opdrag van minister Pieter Groenewald in die Kgosi Mampuru-gevangenis aangerand. Liebenberg en sy agt medebeskuldigdes, insluitend sy vrou Dezzi, het in die Bronkhorstspruit-landdroshof verskyn op aanklagte van onder meer bedrog en geldwassery. Die aanklagte hou verband met ‘n diamantbeleggingskema van vier-miljard-rand waarin duisende mense geld verloor het. Sewe beskuldigdes het borgtog ontvang, terwyl Liebenberg en sy vrou se aansoeke op 15 November voorkom.
# Die Departement van Gesondheid in Gauteng het bewerings ontken oor pasiënte wat weggewys word weens ‘n tekort aan beddens by die urologie-afdeling in die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal. Volgens die departement word slegs operasies wat nie dringend is nie soms uitgestel om noodgevalle te hanteer. Motalatale Modiba van die departement verduidelik die hospitaal se gespesialiseerde urologie-eenheid, wat pasiënte uit verskeie provinsies bedien, bestuur opnames volgens mediese prioriteite:
# Die premier van Israel, Benjamin Netanyahu, het die besoekende Amerikaanse gesant, Amos Hochstein, en die Amerikaanse adviseur oor die Midde-Ooste, Brett McGurk, meegedeel enige wapenstilstandooreenkoms met Hizbollah in Libanon moet Israel se sekerheid waarborg. Die Israelse minister van verdediging, Yoav Gallant, het die gesante gister afsonderlik ontmoet en beraadslagings was volgens hom toegespits op sekerheidsreëlings wat verband hou met die area in die noorde en Libanon, en pogings om die terugkeer van 101 gyselaars te bewerkstellig, wat nog deur Hamas in Gaza aangehou word.
# Rugby: Die All Blacks speel môre in Londen teen Engeland met hulle sterkste moontlike span. Hoofafrigter Scott Robertson het na die toets verlede naweek teen Japan in Yokohama verskeie senior spelers ingesluit met slegs vier spelers wat in die opdrafspan behou is. Die Kiwi’s het Engeland twee keer in Julie tuis verslaan maar volgens Robertson is vier maande ‘n lang tyd in rugby. Hy sê Twickenham is ʼn ikoniese stadion en die meelewing van die skare is soos min ander.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22 -rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-494-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-746-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….