Nuus 06:00
BULLETIN 31 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die begroting sit verbeterde inisiatiewe uiteen vir aankope, munisipale skuldverligting en metrohervorming
# ‘n Prokureur word beskuldig van die verkragting van ‘n 13-jarige meisie
# En rugby: ’n Engelse stut vra dat die All Blacks hul Haka laat vaar
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die regering is daartoe verbind om verkrygingsprosesse te vereenvoudig om korrupsie te voorkom en die toewysing van hulpbronne te verbeter. Die minister se minibegroting het planne uiteengesit vir skuldverligting vir sukkelende munisipaliteite, wat daarop gemik is om plaaslike finansies te stabiliseer en om ekonomiese groei ’n hupstoot te gee. Volgens Godongwana beplan die regering om strenger regulasies en toesig te implementeer om aanspreeklikheid in verkrygingspraktyke te vergroot en billike mededinging tussen verskaffers te bevorder:
Godongwana sê ook belastinginkomste sal na verwagting vir die 2024/2025-boekjaar met 22,3-miljard-rand tekort skiet, weens swakker ekonomiese groei en wêreldwye uitdagings. Die regering sal gevolglik voorrang gee aan noodsaaklike besteding en planne bespoedig om die belastingstelsel teen volgende jaar met digitale hulpmiddels op te gradeer. Volgens Godongwana is hierdie digitale verbeterings daarop gemik om belastinginvordering te versnel, foute te verminder en nakoming te verbeter om fiskale bestendigheid en doeltreffendheid te ondersteun:
# ‘n Prokureur wat daarvan aangekla word dat hy ‘n 13-jarige meisie vir 160-duisend-rand van haar ma gekoop het, waarna hy haar verkrag het, het skuld ontken. Carel Benjamin Schoeman het Woensdag in die Gautengse Hooggeregshof in Palm Ridge verskyn saam met sy medebeskuldigde, die meisie se ma, wat ook onskuldig gepleit het. Schoeman is aangekla van 26 aanklagte, insluitend verkragting, uitbuiting van kinders en ontvoering. Die staat sê Schoeman het die minderjarige as ‘n seksslaaf gebruik, aangesien hy haar na bewering daagliks by ‘n gastehuis in Heidelberg, Gauteng, aangerand het.
# Die Spaanse regering het van vandag af drie dae van rou afgekondig, ná kitsoorstromings wat die lewens van minstens 95 mense in die suidooste van die land geëis het. Verskeie mense word ook regoor die land vermis. Daar was oorstromings in stede soos Valencia, Murcia en Malaga. Die regering het ‘n krisiskomitee saamgestel om reddingspogings te koördineer. Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, het die vloede as verwoestend beskryf en sê hulle is gereed is om reddingspogings te ondersteun:
# Rugby: Die Engelse stut Joe Marler het hom die argwaan van All Blacks-ondersteuners op die hals gehaal deur te vra dat die geskiedkundige Haka laat vaar moet word. Engeland speel Saterdag op Twickenham teen Nieu-Seeland. Marler beskryf die tradisionele Maori-oorlogsdans wat uit 1905 dateer as belaglik, en meen dit dien net ‘n doel wanneer spanne daarop reageer. Die Springbokke het tydens vanjaar se Rugbykampioenskapstoetse teen die All Blacks gesê hulle het nog altyd die Haka gerespekteer. Engeland het nog net agt van sy 45 toetse teen Nieu-Seeland gewen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22 -rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-425-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-786-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-85-sent per vat.
# En ten slotte: Die DA se jare lange burgemeester van Stellenbosch, Gesie van Deventer, het haar uittrede aan die einde van volgende maand aangekondig. Van Deventer se loopbaan strek oor 13 jaar, insluitend rolle as burgemeester van beide Drakenstein en Stellenbosch, met laasgenoemde wat onder haar leiding agt opeenvolgende skoon oudits ontvang het. Die DA-leier in die Wes-Kaap, Tertuis Simmers, het gesê Van Deventer, bekend vir haar fokus op dienslewering, laat ‘n sterk nalatenskap in die provinsie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….