Nuus 06:00
BULLETIN 30 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê daar is hernude beleggersbelangstelling
# Rise Mzansi versoek die regering om nie-noodsaaklike besteding te sny
# En regter Cameron word gevra om kwetsende stellings oor die Wilgenhof-paneel terug te trek
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika is ontvanklik vir beleggings in nywerhede so uiteenlopend soos finansiële dienste, gevorderde vervaardiging, energie en gesondheidsorg-infrastruktuur en mynbou. Hy het die SA Tomorrow and SA Macro Investment Conference toegespreek. Die land het die mees gevorderde en diverse ekonomie in Afrika suid van die Sahara. Ramaphosa sê sedert die totstandkoming van die regering van nasionale eenheid was daar hernude beleggersbelangstelling in die land:
# Rise Mzansi hoop vandag se minibegroting sal die regering van nasionale eenheid se verbintenis tot ekonomiese groei, werkskepping en fiskale verantwoordelikheid weerspieël. Die party vra verhoogde besteding aan kritieke infrastruktuur soos vervoer, water en voedselproduksie, terwyl nie-noodsaaklike uitgawes beperk word. Partyleier Songezo Zibi het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, gevra om voorkeur te gee aan ekonomiese groei en werkskepping:
Die hoofsekretaris van die vakbondfederasie, Saftu, Zwelinzima Vavi, lei vandag intussen ‘n protesaksie wat pleit vir beter befondsing van gesondheidsorg en onderwys. Die optog in Kaapstad sal plaasvind voor Godongwana se toespraak, en is gekant teen besnoeiingsmaatreëls wat maatskaplike ongelykhede vererger en noodsaaklike openbare dienste in gevaar stel. Woordvoerder Mogoshadi Maserumule voer aan begrotingsbesnoeiings lei tot hoër werkloosheid en armoede, wat veral kwesbare gemeenskappe raak:
# Die kanselier van die Universiteit Stellenbosch, regter Edwin Cameron, is gevra om sy kwetsende stellings oor die paneel wat die Wilgenhof-koshuis ondersoek het, terug te trek. Cameron beweer in ‘n beëdigde verklaring die paneel se finale verslag, wat aanbeveel het dat Wilgenhof gesluit word, is gewysig voordat dit by die raad ingedien is. Die koshuis het vroeër vanjaar opslae gemaak, ná ‘n onthulling oor beweerde onmenslike ontgroening en tugoptredes. Die paneelhoof, advokaat Nick de Jager, sê hulle het die verslag gewysig weens die oënskynlike onduidelikheid van hul aanbevelings.
# Die gewese raadgewer van die Amerikaanse Republikeinse presidentskandidaat Donald Trump is vrygelaat uit die tronk in Connecticut na vier maande agter tralies. Die 70-jarige Steve Bannon is ‘n konserwatiewe potgooi-aanbieder wat ‘n sleutelrol gespeel het in Trump se presidentsveldtog van 2016. Hy is skuldig bevind op twee aanklagte van minagting van die Kongres in 2022 omdat hy geweier het om te voldoen aan ‘n dagvaarding in verband met die ondersoek na die 6 Januarie-onluste. Bannon het na sy vrylating gesê as mense voorheen gedink het Amerikaanse politiek is verdelend, wag ‘n verrassing op hulle.
# Rugby: Die Ierse klub Munster het die onmiddellike vertrek van hoofafrigter Graham Rowntree aangekondig. Die gewese voorspeler van Engeland en Leicester Tigers het die span gehelp om die Verenigde Rugbykampioenskapstitel in te palm in sy eerste seisoen in 2022/’23, maar hulle sukkel dié seisoen. Munster is tans twaalfde op die punteleer na slegs twee oorwinnings in die eerste ses wedstryde. Die hoof van rugby-operasies, Ian Costello, neem Rowntree se pligte oor terwyl die klub ‘n nuwe hoofbreier soek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22 -rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-647-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-773-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….