Nuus 06:00
BULLETIN 29 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie bevestig die indiening van getuienis by die Internasionale Geregshof
# Pick n Pay teken ‘n groter verlies aan
# En die meeste kiesers glo nie Trump sal toegee as hy verloor nie
# Die Presidensie sê Suid-Afrika het bewyse by die Internasionale Geregshof in Den Haag in Nederland ingedien, oor Israel se beweerde volksmoord op Palestyne in Gaza. Die voorlegging sluit bewyse van meer as 750 bladsye in, waarin die bewerings uiteengesit word oor hoe Israel die Volksmoordkonvensie oortree het. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê volgens hierdie bewyse het Israel Palestyne deur militêre optrede benadeel, hulle van humanitêre hulp ontneem, en toestande geskep vir hul vernietiging:
# Nasionale Tesourie is vol lof vir agentskappe se vordering nadat Suid-Afrika reeds aan 16 van die 22 vereistes op die gryslys van die Finansiële Aksie-taakmag voldoen. Ses items bly oor, wat fokus op komplekse geldwassery-ondersoeke, terreurfinansiering en die verbetering van toegang tot inligting oor voordelige eienaarskap. Die tesourie beoog om dit teen Februarie 2025 aan te spreek, maar waarsku daar is steeds uitdagings. Indien suksesvol, kan daar in Mei 2025 ‘n plaaslike assessering deur die Finansiële Aksie-taakspan wees en die land kan teen Junie 2025 afgehaal word.
# Die korrupsiesaak teen die gewese Eskom-kontrakteur Michael Lomas is oorgeplaas na die Hooggeregshof in Johannesburg. Hy is uit Brittanje uitgelewer en het broos gelyk tydens gister se verskyning in die Johannesburgse Handelsmisdaadhof. Hy en elf ander staan tereg op aanklagte wat verband hou met 1,4-miljard-rand se verbeterings aan die Kusili-kragstasie in Mpumalanga. Henry Mathomane van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die beskuldigdes sal op 3 Desember weer in die hof verskyn:
# Pick n Pay het verslegtende verliese aangeteken en blameer hoë rentekoerse en uitdagings in sy kern supermark-onderneming. Handelsverliese het met 9,1-persent gestyg, aangedryf deur verminderde winsgrense namate die kleinhandelaar voedselpryse verlaag het om mededingend te wees. Die Boxer-ketting het egter goed gevaar, met ‘n 12-persent toename in verkope. Die uitvoerende hoof, Sean Summers, het optimisme uitgespreek en gesê daar behoort hierdie week ‘n aankondiging te wees oor ‘n samewerkingsooreenkoms met Eerste Nasionale Bank.
# Volgens ‘n nuwe CNN-meningsopname glo die meeste kiesers oudpresident Donald Trump sal nie toegee as hy die 2024 presidensiële wedloop verloor nie. ‘n Merkbare minderheid van sy ondersteuners sê verloorders het geen verpligting om toe te gee nie. Net 30-persent van geregistreerde kiesers sê Trump sal ‘n nederlaag aanvaar, terwyl 73-persent sê vise-president Kamala Harris sal so ‘n uitslag aanvaar. Met slegs ‘n week voor die verkiesing, is die uitslag in die weegskaal met beide kandidate wat elk 47-persent van die steun het.
# Tennis: Die voorste twee manspelers, Jannik Sinner van Italië en die Spanjaard Carlos Alcaraz, gaan hulle opwindende tweestryd dié week in die Paryse Meesterstoernooi voortsit. Albei het ‘n loslootjie gehad in die ronde van 64 en speel vandag in die ronde van 32. Sinner en Alcaraz het ‘n briljante seisoen agter die rug waarin albei twee Grand Slam-titels ingepalm het. Hulle het daarmee hulle aankoms op die toneel aangekondig as opvolgers van die Groot Drie, Rafael Nadal, Roger Federer en Novak Djokovic, wat die sport die afgelope twee dekades oorheers het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22 -rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-808-dollar-63-sent. Die prys van goud is twee-duisend-741-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….