Nuus 06:00
BULLETIN 28 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Basiese Onderwys waarsku oor voedselvergiftigingsvoorvalle
# Die DA kritiseer Panyaza Lesufi se Nasi Ispani-program
# En die jongste meningsopname dui op ‘n effense voorsprong vir Harris onder geregistreerde kiesers
# Die Departement van Basiese Onderwys het kommer uitgepreek oor toenemende gevalle van voedselvergiftiging onder leerders, wat kinders se welstand raak. Die departement beklemtoon die voorvalle behels items wat gekoop is van handelaars naby skole, en nie die Nasionale Skoolvoedingsprogram nie. Die woordvoerder van die department, Elijah Mhlanga, onderstreep die belangrikheid van gemeenskapsverantwoordelikheid met die monitering van voedselveiligheid en moedig skole aan om te skakel met verkopers en ouers:
# ActionSA eis grootskaalse leierskapveranderings by die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap weens onbeteuelde korrupsie en wanbestuur. Onder die bewerings is spookbegunstigdes, bedrieglike uitbetalings en amptenare wat hulleself verryk ten koste van belastingbetalers. Dereleen James van ActionSA sê onlangse getuienis deur studente van Universiteit Stellenbosch het ‘n bedrogspul blootgelê, gesteun deur e-posse van fluitjieblasers, wat pogings onthul om die uitvoerende hoof van SASSA, Busisiwe Memela, in te lig oor kritieke sake. ActionSA sê dringende hervorming is nodig om miljoene kwesbare Suid-Afrikaners te beskerm wat afhanklik is van die agentskap.
# Die DA beweer die premier van Gauteng Panyaza Lesufi se Nasi Ispani-inisiatief misluk, want byna ‘n derde van huishoudings in die provinsie leef op die broodlyn en verdien net een-duisend-558-rand per maand. Die DA-leier Solly Msimanga kritiseer die program wat net tydelik werk skep terwyl die provinsie sit met onbeteuelde werkloosheid wat tans op 2,76-miljoen staam. Hy eis deursigtigheid en dring aan op die vrystelling van forensiese verslae oor korrupsie en lewenstyl-oudits, terwyl hy beklemtoon doeltreffende bestuur is deurslaggewend vir belegging en die skep van permanente werksgeleenthede.
# Die Amerikaanse visepresident en Demokratiese presidentskandidaat, Kamala Harris het ‘n noue voorsprong van 51-persent onder nasionale waarskynlike kiesers teenoor oudpresident en Republikeinse kandidaat, Donald Trump se 47-persent. Dit is volgens die jongste ABC News/Ipsos-meningsopname. Dit dui daarop Harris se ondersteuners is meer geneig om op te daag, met die verdeling onder geregistreerde kiesers op 49-persent vir Harris en 47-persent vir Trump. Kwessies van belang onder geregistreerde kiesers sluit in die ekonomie, misdaad en veiligheid, immigrasie, aborsie en die Midde-Oosterse-konflik.
# Krieket: Die Leeus het hul tweede agtereenvolgende T20-uitdaagtitel verower deur die Titans met agt paaltjies by die Wanderers te klop. Lutho Sipamla het vier paaltjies laat val met die Titans wat vir 119 uitgeboul is. In antwoord het Rassie van der Dussen en Connor Esterhuizen ‘n onoorwonne 98 lopies om die derde paaltjie aangeteken met die Leeus wat 124 vir twee bereik het met 29 balle oor. Die Leeus het nou ses titels.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22 -rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-954-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-738-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
# En ten slotte: Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, in vennootskap met die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, stel vandag die Maatskaplike Sekerheidshersiening Volume 2 in Kaapstad bekend. Die woordvoerder Bathembu Futshane sê die publikasie bied ontledings deur kundiges aan van nasionale en globale maatskaplike beskermingsmaatreëls wat tydens die pandemie ingestel is. Futshane sê dit wil bewysgebaseerde beleidsopstelling bevorder vir ‘n omvattende maatskaplike sekerheidstelsel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….