Nuus 06:00
BULLETIN 25 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Rise Mzansi vra strenger optrede te midde van voorvalle van vermoedelike voedselvergiftiging
# Die Valke ondersoek ‘n Suid-Afrikaner wat in die Israelse weermag diens doen
# En Louis Liebenberg en sy vrou bly vir nog ‘n week agter tralies
# Rise Mzansi vra strenger toepassing en regulasies na ‘n vlaag voorvalle van vermeende voedselvergiftiging in Gauteng, die Noord-Kaap en Limpopo. Die party vra ‘n multi-dissiplinêre ondersoek, insluitend ‘n hersiening van waar spaza-winkels en kleinhandelaars hulle aankope doen. Woordvoerder Makashule Gana vra gereelde terugvoering om waninligting te voorkom en die publiek te kalmeer:
# Die owerhede het ‘n ondersoek van stapel gestuur na ‘n 22-jarige man van Sandton vir sy beweerde die deelname aan die oorlog in Gaza as lid van ‘n elite-skerpskuttereenheid van die Israelse Weermag. Volgens News24 ondersoek die Valke Aaron Bayhack vir sy beweerde rol in die Israel-Gaza-oorlog wat meer as 43-duisend Palestyne en een-duisend-139 Israeli’s geëis het. Die saak word deur die Valke se Eenheid vir Misdade teen die Staat hanteer. Die Huursoldaatwet van Suid-Afrika verbied Suid-Afrikaners om as huursoldate diens te doen.
# Die diamanthandelaar Louis Liebenberg en sy vrou, Dezzi, bly nog vir die volgende week agter tralies oor ‘n beweerde bedrogspul met diamantbeleggings van vier-miljard-rand. Die Landdroshof in Bronkhorstspruit, Gauteng het borgtog wat wissel tussen 20-duisend-rand tot 100-duisend-rand toegestaan aan drie medebeskuldigdes, Magdelena Kleynhans, Helena Schulenburg en Walter Niedinger. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Lumka Mahanjana, sê die saak sal Donderdag voortgaan, omdat vier ander beskuldigdes nog besig is met die voorbereiding van hul borgtogaansoeke:
# Die Raad vir Mediese Skemas sê borskanker onder mans verteenwoordig sowat 1,8-persent van alle borskankergevalle in Suid-Afrika. Dit dui op die belangrikheid van bewusmaking en toetsing onder mans, omdat baie nie besef hulle kan ook die siekte opdoen nie. Die raad sê vroeë opsporing is noodsaaklik vir doeltreffende behandeling en beter gesondheidsresultate. Veldtogte vir die bevordering van gereelde ondersoeke en self-ondersoeke is noodsaaklik vir alle Suid-Afrikaners wat deur borskanker geraak word, insluitend mans.
# Krieket: Die Proteas se waarnemende toetskaptein, Aiden Markram, hoop gister se oorwinning oor Bangladesj in die eerste toets in Mirpur het Suid-Afrika gehelp om die bordjies te verhang in Suid-Asië. Dit was die eerste keer in meer as tien jaar dat die land ‘n toets in die streek kon wen, en nie een van die huidige spelers het dit tevore ondervind nie. Markram sê dit was baie spesiaal vir die jong, effens onervare span. Die gereelde kaptein, Temba Bavuma, kan moontlik fiks wees vir die tweede toets wat Dinsdag in Chattogram begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22 -rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-122-dollar-45-sent. Die prys van goud is twee-duisend-735-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-49-sent per vat.
# En ten slotte. Die Britse regering gaan vanaf Junie volgende jaar die verkoop van weggooi-damprooktoestelle in Engeland verbied weens omgewingskade en verbruik deur jongmense. Byna een uit elke vyf kinders tussen 11 en 17 het reeds damprook probeer hoewel verkope aan minderjariges onwettig is. Die Arbeidersregering beplan wyer wetgewing teen nikotiengebruik, en beskryf dit as die grootste openbare gesondheidsveldtog in ‘n generasie. Ondersteuners sê damprook help rokers ophou rook, maar die owerhede is bekommerd oor die gewildheid daarvan onder kinders. Vyf-miljoen toestelle word weekliks weggegooi en veroorsaak omgewings- en brandgevare.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….