Nuus 06:00
BULLETIN 24 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa loof die BRICS Ontwikkelingsbank se rol in die ondersteuning van die Suide
# ‘n Terreuraanval op ‘n Turkse lugvaartmaatskappy eis vier slagoffers
# En die gemiddelde maandelikse salaris van Suid-Afrikaners beloop nou 17-duisend-rand
# President Cyril Ramaphosa sê die Nuwe Ontwikkelingsbank speel ‘n noodsaaklike rol om die ontwikkelingsdrome van lande in die Globale Suide te steun. Hy het op die 16de BRICS-beraad in Kazan, Rusland, die bank se bydraes geloof vir die groei en ontwikkeling van ontluikende markte en ontwikkelende ekonomieë onder die leierskap van Dilma Rousseff. Ramaphosa vra selfs sterker samewerking onder BRICS-lande om die bank se bronne vir volhoubare ontwikkeling aan te wend:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Maatskaplike Ontwikkeling vra vir ‘n ondersoek na gebreke in die betaalstelsel van die toelae vir die Verligting van Maatskaplike Nood. Dit volg nadat twee studente van die Universiteit Stellenbosch in ʼn studie bevind het hulle is vir die toelae geregistreer sonder dat hulle ooit aansoek gedoen het. Minister Sisisi Tolashe het onderneem om binne 30 dae ʼn verslag voor te lê:
# Die Stad Tshwane stel versagtingsmaatreëls in om voortdurende kragonderbrekings weens die onlangse storms en skade aan die infrastruktuur te bekamp. Belangrike stappe sluit in die voorkeur-herstel van hoë-impak netwerkkwessies, die onverwylde snoei van bome om kragonderbrekings te voorkom, die ontplooiing van reaksiespanne na gebiede wat geraak word, en die verbetering van sekerheidsmaatreëls om diefstal en vandalisme te voorkom. Die burgemeester, Nasiphi Moya, sê stadsamptenare is daartoe verbind om betroubare kragtoevoer te herstel en toekomstige ontwrigtings vir inwoners te verminder.
# ‘n Terreuraanval is uitgevoer by die Turkse lugvaartnywerheidshoofkwartier in die buitewyke van Ankara. Minstens vier mense is in die voorval dood en 14 ander beseer. Volgens berigte het ‘n groep aanvallers in ‘n taxi by die fabriek opgedaag, en tydens ‘n skofwisseling toegang tot die gebou gekry. ’n Ploftoestel het ontplof en skote is afgevuur. Die minister van Binnelandse Sake, Ali Yerlikaya, sê twee van die aanvallers is dood. Dit is nog nie duidelik wie verantwoordelik was vir die aanval nie.
# Rugby: Die Bulle kry hierdie naweek weer te doen met die Ierse skeidsregter, Eoghan Cross, dieselfde man wat senter David Kriel met ʼn rooikaart die trekpas gegee het in die Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd twee weke gelede teen die Ospreys. Die kaart is later geskrap. Die span van Pretoria het ten spyte van die ontwrigting gewen maar ʼn soortgelyke voorval – hierdie keer teen Springbokhaker, Johan Grobbelaar in die wedstryd ʼn week later teen Scarlets – het gelei tot ʼn nederlaag met een punt. Die Bulle speel môreaand teen Benetton in Treviso.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22 -rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-602-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-719-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-17-sent per vat.
# En ten slotte: BankservAfrica berig die gemiddelde salaris wat Suid-Afrikaners huis toe neem, het verlede maand 17-duisend-171-rand bereik, die hoogste sedert die eerste BankservAfrica Take-Home Pay-indeks. Dit dui ‘n 10,2-persent toename aan. ‘n Ekonoom, Elize Kruger, het egter opgemerk in werklike terme en aangepas vir inflasie, is die werklike bedrag 14-duisend-969-rand. Die afname in inflasie, laer rentekoerse en onlangse loonooreenkomste het besteebare inkomste ‘n hupstoot gegee. Sy sê verbeterde koopkrag kan verbruikersbesteding teen die einde van die jaar laat toeneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….