Nuus 06:00
BULLETIN 11 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie reageer op kommer oor die koste van die Nasionale Dialoog
# Benjamin Netanyahu verdedig sy regering se plan om Gazastad oor te neem
# En krieket: Australië klop die Proteas om hul 9de agtereenvolgende T20-oorwinning te behaal
# Die Presidensie sê die totale koste van die begroting vir die Nasionale Dialoog sal ontwikkel word sodra die struktuur en vorm van die gemeenskapsdialoog afgehandel is. Die aanvanklike koste van 700-miljoen-rand waaroor berig is, is wyd veroordeel. Die Presidensie sê die Universiteit van Suid-Afrika sal die eerste nasionale konvensie aanbied en die infrastruktuur en dienste gratis verskaf. Geld sal uit die begrotings van NEDLAC en die Presidensie toegeken word om die oorblywende koste te dek. Volgens die Presidensie sal koste streng gemonitor word.
Die Activists and Citizens Forum sê intussen die onttrekking van ses stigtings aan die Voorbereidende Taakspan vir die Nasionale Dialoog wat hierdie week plaasvind is geregverdig. Die groep sê die stap plaas die mense bo eiebelang en bevraagteken president Cyril Ramaphosa se motiewe om voort te gaan. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, voer aan dat die dialoog gewone burgers opsy skuif en die risiko loop om ‘n elite politieke gesprek te word en belastingbetalers se geld te mors:
# Die EFF doen ‘n beroep op die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, om te bedank nadat ou rassistiese plasings op sosiale media weer opgeduik het. Die EFF-woordvoerder, Sinawo Thambo, sê die opmerkings is uiters aanstootlik vir swart Suid-Afrikaners en onversoenbaar met ‘n openbare amp. Thambo dring daarop aan dat McKenzie se verwydering ‘n benadering van geen verdraagsaamheid teenoor rassisme sal toon. Dit volg te midde van ‘n wyer debat oor aanspreeklikheid vir rassehaatspraak, met opposisiepartye wat waarsku teen selektiewe optrede.
# Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, sê die provinsiale regering sal nie meer op tenders staatmaak nie. Lesufi het ‘n nuwe fase van die Nasi Ispani-program aangekondig, wat daarop gemik is om mense op te lei om werk te verrig wat tans deur tenders uitgekontrakteer word. Hy sê die inisiatief sal werksgeleenthede skep, vaardighede bou en hulpbronne binne die provinsie hou terwyl korrupsie verminder word:
# Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, het sy regering se plan om Gazastad oor te neem verdedig en gesê dit is die enigste manier om die oorlog vinnig te beëindig. Die plan het hewige kritiek ontlok van die families van die oorblywende 50 gyselaars in Gaza, van wie 20 vermoedelik nog leef. Netanyahu beweer dat hulle ongeveer 70- tot 75-persent van Gaza onder Israelse militêre beheer het. Hy sê hulle moet die werk afhandel en die nederlaag van Hamas voltooi:
# Krieket: Australië het Suid-Afrika met 17 lopies gewen in die eerste van drie T20-wedstryde in Darwin, wat hul onoorwonne rekord in die formaat tot nege wedstryde verhoog het. Tim David het 83 lopies aangeteken en ‘n sewende paaltjie-vennootskap van 59 met Ben Dwarshuis gedeel, terwyl die gashere 178 lopies aangeteken het. Die 19-jarige Kwena Maphaka het met die bal beïndruk vir die Proteas en het vier paaltjies geneem. In antwoord het Ryan Rickelton se 71 lopies Suid-Afrika tot die laaste boulbeurt in die wedloop gehou, maar die besoekers het uiteindelik 17 lopies gekort. Die tweede T20 môre is ook in Darwin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-148-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-393-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….