Nuus 06:00
BULLETIN 22 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid gaan The New Age-ontbytinligtingsessies ondersoek
# President Ramaphosa neem aan die BRICS-beraad deel
# En FlySafair word nie geraak deur die Boeing 737-stuurstangkwessie nie
# President Cyril Ramaphosa het ingestem dat die Spesiale Ondersoekeenheid bewerings van korrupsie en wanadministrasie ondersoek by die koerant The New Age se sakeontbyt-sessies wat deur die SABC aangebied is. Die inligtingsessies het onderhoude met ministers en topbestuurders van staatsinstellings ingesluit. Die Staatskapingskommissie het bevind dat die gewese koerant vir die Gupta-familie ‘n kanaal vir staatskaping was. Die SOE sê die ondersoek sal enige onreëlmatige, onwettige of onbehoorlike optrede deur staatsamptenare of werknemers by TNA Media tot so ver terug as 2011 insluit.
# Minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, vra vir groter klem op vroeë kinderonderwys, en beklemtoon ‘n sterk grondslagfase kan uitsaksyfers verlaag. Gwarube beklemtoon die behoefte aan volhoubare oplossings om die onderwysstelsel te verbeter en te verseker alle leerders het toegang tot gehalte-onderrig. Sy het teenoor die SABC die implementering van beleid bevestig om uitdagings met opvoedkunde in die grondslagfase aan te pak:
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, sê bedrogaanklagte teen die voormalige burgemeester, Kabelo Gwamanda, regverdig die instel van die ANC se opsystaanreël. Gwamanda, is tans die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheid en is in hegtenis geneem omdat hy na bewering in 2012 aan die hoof van ‘n bedrieglike begrafnisonderneming was. Morero dring aan die ANC-beleid moet geld, al behoort Gwamanda aan ‘n ander party. Intussen eis die DA ‘n ondersoek na alle ooreenkomste wat Gwamanda tydens sy ampstermyn onderteken het.
# President Cyril Ramaphosa neem van vandag tot Donderdag deel aan die 16de jaarlikse BRICS-beraad in Kazan, Rusland. Die beraad is onder die tema, Versterking van Multilateralisme vir Regverdige Globale Ontwikkeling en Sekuriteit. Die presidensie sê Suid-Afrika se deelname aan die BRICS-groepering is om die land se toekomstige groei en ontwikkeling te bevorder. Ramaphosa sê BRICS het ‘n belangrike rol in die wêreld:
# Rugby: Die All Black-senter David Halili sê hulle sal lugtig wees vir Eddie Jones se invloed wanneer hulle Saterdag in Yokohama teen Japan speel. Die gewese Wallaby-afrigter het ooswaarts uitgewyk na sy rampspoedige verblyf in Australië, wat verlede jaar die eerste keer ooit nie die Wêreldbekertoernooi se uitklopronde gehaal het nie. Havili sê hulle sal bedag wees op Japan se flair en Jones se oorspronklike afrigtersvaardighede. Nieu-Seeland reis na die naweek na Europa vir toetse teen Engeland, Ierland, Frankryk en Italië.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22 -rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-470-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-722-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-5-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika se FlySafair bevestig sy vloot word nie deur ‘n probleem met die Boeing 737-beheerstelsel geraak nie. Die Amerikaanse lugvaartagentskap het 40 lugrederye, insluitend die wat Boeing 737 NG en 737 MAX-vliegtuie in sy vloot het, gewaarsku onderdele wat nie na behore saamgestel is nie kan probleme met stuurstangbeheer veroorsaak. Die woordvoerder van FlySafair, Kirby Jackson, sê die vliegtuie is versien en geen probleme is gevind nie. Dit kom te midde van ‘n wêreldwye ondersoek na veiligheidskwessies met Boeing 737-modelle.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….