Nuus 06:00
BULLETIN 17 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Pule Mabe staan opsy as ANC NUK-lid nadat hy aangekla is
# Die minister van Polisie sê die Lusikisiki-slagting is in die tronk beplan
# En president Ramaphosa gee aandag aan die waterkrisis in Mogale City
# Die voormalige ANC-woordvoerder, Pule Mabe, het opsy gestaan as lid van die party se nasionale uitvoerende komitee nadat hy van bedrog en geldwassery aangekla is. Dit hou verband met ‘n tender van 27-miljoen-rand wat sy maatskappy Enviro Mobi na bewering in 2017 onregmatig ontvang het. Hy het gister saam met ses medebeskuldigdes in die Palm Ridge-landdroshof in Gauteng verskyn, waar borgtog van 30-duisend-rand elk aan hulle toegestaan is. Mabe sê sy besluit is nie ‘n bewys dat hy skuldig is nie:
Die Nasionale Vervolgingsgesag sê intussen die staat is gereed vir die hof in die korrupsiesaak van Mabe, sy vrou en vyf ander. Hulle word aangekla van korrupsie en bedrog. NVG-woordvoerder, Phindi Mjonondwane, sê die tender is onregmatig toegeken:
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu sê die moord op 18 mense in Lusikisiki in die Oos-Kaap verlede maand, is in die tronk beplan. Vier verdagtes is in hegtenis geneem. Een van die verdagtes op parool het reeds in die hof verskyn, terwyl drie ander gister in hegtenis geneem is. Mchunu het in die Parlement gesê parool moet nie tot misdadigheid lei nie. Hy sê hy het die saak met die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald bespreek.
# President Cyril Ramaphosa is baie bekommerd oor onbehandelde riool-besoedeling in Mogale City in Gauteng. Die munisipaliteit het nagelaat om die kwessie suksesvol aan te spreek ondanks talle opdragte sedert 2019 deur die Department Water en Sanitasie, wat gelei het tot strafregtelike klagtes. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die besoedeling raak die Unesco-wêrelderfenisgebied Wieg van die Mensdom:
# Krieket: Die Protea-draaibouler Nonkululeko Mlaba glo die span verdien om in die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi te wees. Die vroue het gekwalifiseer met ‘n beter netto-lopietempo nadat die Windies Engeland Dinsdag verslaan het in hulle laaste Groep B-wedstryd. Hulle kom nou môre teen Australië te staan vir ‘n plek in Sondag se eindstryd in Dubai. Mlaba se nege paaltjies in vier kragmetings is die tweede meeste in die toernooi. Die Windies en Nieu-Seeland pak mekaar Vrydag in die ander halfeindstryd in Sharjah.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-630-dollar-81-sent. Die prys van goud is twee-duisend-674-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte: Die Roemeense skaakmeester, Kirill Shevchenko, is uit ‘n nasionale kompetisie geskors nadat hy daarvan beskuldig is dat hy ‘n selfoon gebruik het terwyl hy speel. Shevchenko het aan die Spaanse Spankampioenskap in Melilla deelgeneem toe die beweerde kullery plaasgevind het. Hy was tydens die openingsrondes lang tye weg van die skaakbord en ‘n selfoon en notas is later in ‘n toilet gevind. Die Roemeense skaakfederasie sê hy wag vir bewyse voordat ‘n bevinding oor die bewerings gemaak word. Shevchenko het verlede jaar ‘n loopbaanbeste van nommer 39 op die wêreldranglys bereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….