Nuus 06:00
BULLETIN 16 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Automobiel-Assosiasie waarsku teen ‘n brandstofprysstyging in November
# Sewe-en-veertig leerders van Pretoria word vir voedselvergiftiging behandel
# En krieket: Die Protea-vroue is deur na die T20 Wêreldbeker-halfeindstryd
# Die Automobiel-Assosiasie waarsku die reeks brandstofprysverlagings die afgelope vyf maande gaan in November tot ‘n einde kom. Op grond van data van die Sentrale Energiefonds voorsien die AA geringe stygings van 14-sent per liter vir loodvrye petrol van 95-oktaan, 3-sent per liter vir 93-oktaan en tot 14-sent per liter vir diesel. Woordvoerder Eleanor Mavimbela sê die styging word genoodsaak deur hoёr internasionale produkpryse en ʼn verswakkende rand:
Die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, het intussen spesiale stralerbrandstof-invoere vanaf Maandag tot 20 Oktober 2025 goedgekeur, om ‘n voorsieningskrisis by lughawens in die feestyd te voorkom. Hierdie besluit volg ná kommer in die bedryf oor administratiewe vertragings wat brandstofinvoere deur Durban beïnvloed. Die Inkomstediens het verduidelik die bedryf het gesukkel om aan streng bepalings van die Doeane- en Aksynswet te voldoen. Die Inkomstediens vra vinnige voldoening, om naatlose reis en ekonomiese bestendigheid in die tydperk te verseker.
# Sewe-en-veertig leerders van die Rapelego Primary School in New Eersterust in Hammanskraal het Maandag mediese behandeling ontvang vir moontlike voedselvergiftiging. Die meeste van die graad vyf-leerders is ontslaan met slegs vier wat steeds in die hospitaal is. Die Gautengse Gesondheidsdepartement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die leerders het na bewering sjokolade met ‘n vervaldatum van Junie 2024 by ‘n ander leerder gekoop:
# Die president van die Maldives het meer as 225 mense in politieke aanstellings, insluitend ministers, afgedank in ‘n poging om die uitgawes van die land met sy half-miljoen inwoners te verminder. Mohamed Muizzu het die mense wat hy aangestel het nadat hy verlede jaar aan bewind gekom het, weer laat verwyder, aangesien die klein maar strategies geleë land in die Indiese Oseaan sukkel om ‘n skuldkrisis af te weer. Daar is onder andere sewe staatsministers, 43 adjunkministers en 178 politieke direkteure afgedank. Dis nie presies duidelik wat die mense gedoen het nie.
# Krieket: Suid-Afrika is deur na die Vroue T20 Wêreldbeker-halfeindronde nadat die Wes-Indiese Eilande Engeland in hul laaste Groep B-wedstryd in Dubai uitgskakel het. Engeland het 141 vir sewe in hul 20 beurte behaal. Die Wes-Indiese Eilande het die teiken bereik met die hulp van kaptein Hayley Matthews, wat 50 aangeteken het in haar 100ste T20-toets, en Qiana Joseph met 52. Nadat hulle bo-aan Groep B geëindig het, sal die Wes-Indiese Eilande nou in die halfeindronde teen Nieu-Seeland te staan kom, terwyl Suid-Afrika die verdedigende kampioen Australië sal aanvat.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-848-dollar-32-sent. Die prys van goud is twee-duisend-661-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-64-sent per vat.
# En ten slotte: Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het hulde gebring aan die ontslape voormalige minister van Finansies, Tito Mboweni, en onthou hom as intellektueel briljant en ‘n revolusionêr in die ANC. Hy het die party se afvaardiging gelei na Mboweni se huis in Johannesburg. Mbalula het medelye met Mboweni se familie betuig en die voormalige minister se belangrike bydraes tot die groei van Suid-Afrika en ekonomiese bestendigheid beklemtoon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….