Nuus 06:00
BULLETIN 15 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC-adjunkpresident verwerp bewerings van verskille in die regering van nasionale eenheid
# Die DA onderneem om die Nasionale Loterykommissie aanspreeklik te hou
# En krieket: Engeland kan vandag vir die Proteas ‘n plek in die T20 Wêreldbeker-halfeindstryd besorg
# Die adjunkpresident van die ANC, Paul Mashatile, sê daar is geen interne rusies in die regering van nasionale eenheid nie. Hy erken daar is ‘n mate van spanning tussen die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, en die federale voorsitter van die DA, Helen Zille, oor die weiering van die DA om saam met die ANC in die provinsie te werk. Met die regering van nasionale eenheid 100 dae oud sedert die totstandkoming van die sewende administrasie in Junie, beklemtoon Mashatile die ANC se verbintenis tot eenheid en vooruitgang:
# Die DA sê hy sal wetstoepassingsagentskappe en die raad van die Nasionale Loterykommissie in die Parlement ondervra. Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die kommissie byna 70-miljoen-rand aan regskoste bestee het om verskeie personeeltugsake tussen 2019 en 2023 te verdedig. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau het in ‘n skriftelike antwoord 50 gevalle rapporteer waar die kommissie Arbeidshof-uitsprake betwis, personeelafdankings verdedig of teen personeel in tugsake litigeer. Die DA sê hy sal volle aanspreeklikheid en toepaslike vergoeding verseker.
# Die Gautengse Onderwysdepartement het bekendgemaak meer as 180-duisend kandidate gaan die eksamen vir die 2024 Nasionale Senior Sertifikaat skryf wat op Maandag 21 Oktober begin en tot Donderdag 28 November duur. LUR Matome Chiloane beklemtoon die mandaat van die departement om geloofwaardige eksamens te verseker. Alle kandidate landwyd moet Vrydag ʼn belofte onderteken wat hulle onderwerp aan die eksamen-gedragskode en om die beginsels van eerlikheid en integriteit te handhaaf:
# Donald Trump sê Amerikaners wat gekant is teen hom, is “radikaal-linkse kranksinniges” en “die vyand van binne”. Hy het op Fox News gesê die land het ‘n vyand van buite, plus die vyand van binne. Trump sê die vyand van binne is gevaarliker as China en Rusland. Hy voeg by hy verwag nie van enige van sy ondersteuners om op verkiesingsdag onrus te veroorsaak nie en stel voor die nasionale veiligheidsagentskap of die weermag moet sulke situasies hanteer. Trump se ondersteuners het op 6 Januarie 2021 die Kongres-gebou aangeval in ‘n poging om te keer dat Joe Biden president word.
# Krieket: Die Protea-vroue se lot is vandag in die hande van Engeland, wat die Windies in ‘n Groep B-wedstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi pak. Engeland en Suid-Afrika is tans in die twee kwalifiseringsposisies vir die halfeindronde en die Windies derde, maar ‘n oorwinning vir die eilandbewoners sal Suid-Afrika uitskakel weens die Windies se beter netto-lopietempo. As Engeland wen, dring hulle en die Proteas deur. Bangladesj en Skotland is reeds in die groep uitgeskakel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-50-dollar-4-sent. Die prys van goud is twee-duisend-650-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-7-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nobelprys vir Ekonomie is toegeken aan Daron Acemoglu, Simon Johnson en James Robinson van die Verenigde State vir hul baanbrekers-navorsing oor rykdom-ongelykhede tussen nasies. Hul werk beklemtoon hoe politieke en ekonomiese instellings, veral Europese kolonialisering, nasionale welvaart beïnvloed het. Jakob Svensson van die Nobel-komitee het die belangrikheid van hul bevindings beklemtoon en sê die vermindering van inkomsteverskille is een van vandag se grootste uitdagings:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….