Nuus 06:00
BULLETIN 14 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê Tito Mboweni het bygedra om Suid-Afrika se demokrasie te versterk
# Die Valke maak aansienlike vordering in hoëprofiel-sake
# En sewe mense, insluitend ‘n driejarige seuntjie, is in Orange Farm doodgeskiet
# Die DA sê die voormalige minister van Finansies en president van die Reserwebank, Tito Mboweni se nalatenskap in die Suid-Afrikaanse politiek strek oor jare en is betekenisvol. Hy is Saterdagaand in die ouderdom van 65 na ‘n kort siekbed dood. Die DA se nasionale woordvoerder, Karabo Khakhau, sê Mboweni se afsterwe is ‘n groot verlies vir die land, en sy bydraes tot die versterking van demokrasie en die verbetering van die lewens van alle burgers sal nie vergeet word nie:
Die ANC-jeugliga het intussen ook medelye uitgespreek oor die heengaan van Mboweni, en gesê hy was ‘n leier en visioenêr. Die liga se sekretaris-generaal, Mntuwoxolo Ngudle, sê Mboweni se merkwaardige lewe van onbaatsugtigheid en toewyding, inspireer jong mense in die stryd om ekonomiese vryheid en geregtigheid.
# Die hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, sê die wetstoepassingsagentskap maak aansienlike vordering met die inhegtenisneming van indiwidue wat betrokke is by hoëprofiel-sake, en verseker daarmee aanspreeklikheid en geregtigheid vir slagoffers. Lebeya het die media ingelig oor die vordering in hoëprofiel-sake en suksesse wat behaal is. Hy sê die arrestasies teiken mense betrokke by ernstige korrupsie, georganiseerde misdaad en handelsmisdade, waaronder bedrog en diefstal. Hy sê altesaam 818 verdagtes, 800 gewone mense en 18 juridiese persone, het in verskeie howe verskyn:
# Die Gautengse polisie ondersoek die moord gister op sewe mense insluitend vyf familielede in Orange Farm. ‘n Driejarige seun is onder die slagoffers. Die gesin het lobola-onderhandelinge gevier toe die aanval plaasvind. Die polisiewoordvoerder, Brenda Muridili, sê vier persone het die aanval oorleef met twee van die oorlewendes, ‘n 31-jarige en ‘n eenjarige seun, wat beserings opgedoen het. Sy sê die verdagte het homself geskiet en is met sy aankoms by die hospitaal dood:
# Die Verenigde Nasies se vredesmagte in Libanon sê die Israelse weermag het in stryd met internasionale reg een van sy posisies in Suid-Libanon binnegedring. Twee Israelse tenks het die hoofhek van ‘n basis van die VN se tussentydse mag in die suide vernietig. Die afgelope paar dae is vyf VN-vredesmaglede beseer. Die Israelse premier, Benjamin Netanyahu sê die VN moet sy vredesmagte uit Libanon onttrek omdat hulle in die pad is. Die VN het ‘n verduideliking van die Israelse weermag versoek oor wat as skokkende oortredings bestempel word.
# Rugby: Die Leeus het gister die Dragons met 23-19 by Rodney Parade in Suid-Wallis verslaan, wat hulle drie agtereenvolgende oorwinnings gee in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die Leeus, Quan Horn en Jarod Cairns, het elkeen ’n drie gedruk wat Evan Lloyd verdoel het en nog drie strafskoppe. Intussen het die Bulle Saterdag hul onoorwonne lopie volgehou met ‘n sege van 29-19 oor die Ospreys, terwyl die Sharks en Stormers hul onderskeie wedstryde verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-700-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-649-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….