Nuus 06:00
BULLETIN 9 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vergadering erken Hlophe se bedanking uit die Regterlike Dienskommissie
# Fikile Mbalula is bekommerd oor uitgelekte korrespondensie oor Panyaza Lesufi
# En Joe Biden waarsku Orkaan Milton kan die ergste wees wat Florida in ‘n eeu tref
# Die Nasionale Vergadering het bekendgemaak hulle kan nie voor die regtersonderhoude ‘n plaasvervanger op die Regterlike Dienskommissie vir die adjunkpresident van die MK-party, John Hlophe, aanstel nie. Dit volg nadat die party Hlophe se benoeming uit die RDK teruggetrek het. Die parlementêre woordvoerder, Moloto Mothapo, sê hoewel die proses om ʼn nuwe lid aan te wys sal begin, beteken die tydsberekening met die bedanking dat geen plaasvervanger vir die huidige reeks onderhoude aangestel kan word nie:
# Die DA kritiseer die ontoereikende optrede teen amptenare wat die aanmelding van Thabo Bester se ontsnapping uit die Mangaung Korrektiewe Sentrum in die Vrystaat vertraag het. Volgens die party is hierdie amptenare bloot hertoegewys met ʼn finale waarskuwing, wat volgens hulle onvanpas is vir sulke growwe nalatigheid. Woordvoerder Janho Engelbrecht versoek die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, om hierdie gebrek aan aanspreeklikheid te verduidelik, en voeg by dit ondermyn openbare vertroue in die regstelsel en bou voort op ‘n kultuur van straffeloosheid binne die departement.
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het kommer uitgespreek oor interne korrespondensie wat uitgelek het. Die korrespondensie gaan oor die Gautengse premier Panyaza Lesufi. Mbalula het tydens ‘n nuuskonferensie bespiegelings in die media gekritiseer, asook waninligting wat die ANC se beeld kan benadeel. Die korrespondensie het verwys na Lesufi se openbare opmerkings oor die regering van nasionale eenheid en plaaslike koalisies. Mbalula het beklemtoon dit moet intern hanteer word:
# Die Wes-Kaap sê hy benodig meer as 3,5-miljard-rand om die stormskade weens rampe soos oorstromings die afgelope twee jaar te herstel. Die provinsiale Rampbestuursentrum het tussen Junie 2023 en Augustus vanjaar op tien rampe gereageer. Gebiede wat geraak word, sluit in die Kaapse Wynlande, Riverlands, die Sentraal-Karoo en Kaapstad. Die provinsie se hoofdirekteur van rampbestuur, Colin Deiner, sê voorlopige skadebepalings vir slegs die Junie-oorstromings het ‘n begrotingstekort van 762-miljoen-rand getoon met ‘n tekort van 1,4-miljard-rand vir die Julie-oorstromings.
# President Joe Biden sê Orkaan Milton kan een van die ergste storms wees wat Florida die afgelope eeu tref. Die orkaan wat as kategorie vier geklassifiseer is, sal na verwagting lewensgevaarlike toestande in dele van Florida veroorsaak wanneer dit vandag aanland. Die storm kom minder as twee weke ná Orkaan Helene waarin minstens 225 mense reg oor Florida, Georgia, Suid-Carolina, Tennessee, Virginia en Noord-Carolina dood is. Biden sê diegene in die storm se pad moet onmiddellik ontruim:
# Tennis: Die gewese wêreld nommer een, Novak Djokovic, is steeds op koers om die 100ste titel van sy glansryke loopbaan in China in te palm. Die Serwiër het die Italianer Flavio Cobollo met 6-1, 6-2 verpletter om die laaste 16 van die Sjanghai Meesterstoernooi te bereik. Die 37-jarige het slegs sewe punte op sy afslaan afgestaan. Djokovic speel volgende teen die Rus, Roman Safiullin. Die Amerikaner Jimmy Connors en die Switser Roger Federer is die enigste twee spelers ooit om 100 beroepstoernooie te wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-170-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-622-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….