Nuus 06:00
BULLETIN 26 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê 30 Junie sal as gewone werksdag voortgaan
# Fikile Mbalula sê migrasie toets die Vryheidsmanifes
# En rugby: Rambo Kubheka sal die Junior Bokke in die openingswedstryd van die Junior Wêreldkampioenskappe lei
# President Cyril Ramaphosa sê maatreëls is ingestel om te verseker dat 30 Junie ‘n normale werksdag sal wees ondanks die beplande onwettige immigrasiebetogings. In reaksie op vrae in die Nasionale Raad van Provinsies het Ramaphosa gesê veiligheidsmagte is gereed om orde te handhaaf en bestendigheid landwyd te ondersteun. Hy het die raad verseker die regering is daartoe verbind om kalmte en orde te handhaaf en geen ontwrigting word verwag nie:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê migrasie toets die beginsels van die Vryheidsmanifes en plaas druk op nasionale eenheid en die oppergesag van die reg. Mbalula het die media ingelig oor die uitkomste van die party se nasionale werkkomitee en gesê die regering tree ferm op met ongedokumenteerde migrasie, met meer as 110-duisend deportasies wat vanjaar uitgevoer is. Hy het ook verwys na die groeiende gemeenskapspanning wat verband hou met migrasie en handhawingsmaatreëls:
# Die voormalige MK-partylede, Duduzile Zuma-Sambudla en Nhlamulo Ndhlela, het hofdokumente by die Suid-Gautengse Hooggeregshof ingedien waarin hulle hul verwydering uit die party betwis. Hulle versoek dat hul skorsings tersyde gestel word, en voer aan dat die besluit om hul lidmaatskap te beëindig hersien en omgekeer moet word. In die dokumente sê die twee hulle is geskors sonder dat hulle formeel aangekla is, kennis ontvang het, of ‘n tugverhoor gekry het. Zuma-Sambudla en Ndhela is uit die party ontslaan nadat hulle van growwe wangedrag beskuldig is.
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste sê hulle sal die staatsoorname van die Mangaung korrektiewe sentrum in die Vrystaat noukeurig monitor wanneer die Departement van Korrektiewe Dienste volgende maand volle beheer oorneem. Die voorsitter van die komitee, Anthea Ramolobeng, het die media ingelig oor sekuriteitsaangeleenthede en gesê daar is steeds kommer oor personeelwerwing, sekuriteit, infrastruktuurherstelwerk en die moontlike opname van G4S-werknemers:
# Die Amerikaanse Hooggeregshof het beslis dat president Donald Trump se regering die wetlike beskerming vir migrante wat van geweld en natuurrampe in Haïti en Sirië vlug, kan beëindig. Die beëindiging van die tydelike beskermde status sal soveel as 350-duisend Haïtiane en ses-duisend Siriërs in Amerika raak. Intussen het die hof in ‘n afsonderlke uitspraak ‘n omstrede beleid laat herleef wat daarop gemik is om die aantal asielsoekers wat by die grens tussen die VSA en Mexiko verwerk word, te beperk. Migrante sal nie geregtig wees om om asiel aansoek te doen totdat hulle in Amerika aankom nie.
# Rugby: Die ervare stut Rambo Kubheka sal die Junior Springbokke lei wanneer hulle Saterdag teen Uruguay in hul eerste Groep A-wedstryd van die 2026 Wêreldrugby Junior Wêreldkampioenskap in Tbilisi, Georgië, te staan kom. Met die span se kaptein, Siphosethu Mnebelele, wat onder die plaasvervangers aangewys is, neem Kubheka die leierspligte oor vir die SA onder-20’s se eerste groepwedstryd van die toernooi. Die afrigter van die Junior Bokke, Kevin Foote, het op ‘n verdeling van vyf voorspelers en drie agterspelers op die plaasvervangersbank besluit vir hierdie botsing teen hul Suid-Amerikaanse teenstanders. Die afskoptyd is 18:30.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-680-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-29-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….