Nuus 06:00
BULLETIN 8 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regterlike Dienskommissie is nog nie amptelik ingelig oor Hlophe se bedanking nie
# Die EFF wil minister Steenhuisen na die Parlement se Etiekkomitee verwys
# En krieket: Engeland het Suid-Afrika geklop in hul Vroue T20 Wêreldbeker Groep B-kragmeting
# Die Regterlike Dienskommissie sê hy het nog nie amptelike bevestiging van die Parlement ontvang oor John Hlophe se bedanking nie. Die MK-party het gister die benoeming van sy parlementêre leier, Hlophe, om in die RDK te dien teruggetrek. Dit volg nadat die voormalige Wes-Kaapse regterpresident, wat in ‘n staat van beskuldiging is oor wangedrag, deur die Wes-Kaapse Hooggeregshof verbied is om in die kommissie te dien. Die RDK-woordvoerder, Sesi Baloyi sê hulle het deur die media verneem van Hlophe se bedanking:
# Die EFF sê hy gaan die minister van Landbou, John Steenhuisen, verwys na die Parlement se Etiekkomitee omdat hy gelieg het oor die aanstelling van ongekwalifiseerde personeel in sy kantoor. Luidens ’n parlementêre antwoord deur die Departement van Staatsdiens en Administrasie het Steenhuisen vier versoeke gerig om kandidate aan te stel wat nie aan die minimum vereistes voldoen nie. Die EFF sê in antwoord op sy vraag het hy ontken dat hy van die werwingsbeleid afgewyk het. Dit bewys Steenhuisen het ‘n afwyking gesoek om die aanstellings te regverdig, maar het hieroor vir die Parlement gelieg.
# Die Oos-Kaapse LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Xolile Nqatha, veroordeel die moord op ses lede van die gemeenskapspolisiëringsforum in Godini, Qumbu. Vier ander is in die aanval gewond toe hulle voorberei het vir patrollies. Daar is glo die afgelope tyd toenemende voorvalle van veediefstal in Qumbu. Die LUR vra vinnige ondersoeke en arrestasies aangesien die verdagtes steeds op vrye voet is:
# Die Gemeenskapsveiligheidskomitee van die Gautengse Provinsiale Wetgewer loof die arrestasie van sewe beamptes van die Misdaadvoorkomingseenheid van die Johannesburg-distrik. Hulle staar aanklagte van moord, marteling en diefstal in die gesig en hulle vinnige arrestasie beklemtoon die belangrikheid van aanspreeklikheid in wetstoepassing. Die komitee benadruk die noodsaaklikheid om korrupsie uit te roei, om openbare vertroue te beskerm en om eerlike beamptes te ondersteun wat toegewy is aan gemeenskapsbeskerming. Die komitee versoek ook lede van die gemeenskap om waaksaam te bly en enige verdagte bedrywighede of wangedrag by wetstoepassingsbeamptes aan te meld.
# President Cyril Ramaphosa het sy meegevoel betuig met die mense en regering van die Demokratiese Republiek die Kongo na ‘n tragiese bootongeluk op die Kivu-meer. Presidensie-woordvoerder, Vincent Magwenya, sê nagenoeg 80 mense het hulle lewens verloor met byna 200 wat steeds vermis word nadat die vaartuig verlede week gesink het:
# Krieket: Engeland het Suid-Afrika met sewe paaltjies verslaan in hul Vroue T20 Wêreldbeker se Groep B-wedstryd in Sharjah, Verenigde Arabiese Emirate. Die Protea-kaptein Laura Wolvaardt het 42 geslaan met Suid-Afrika wat 124 vir ses in hul 20 boulbeurte aangeteken het. In antwoord het Nat Sciver-Brunt se onoorwonne 48 en Danni Wyatt-Hodge se 43 Engeland gehelp om hul teiken van 125 te bereik met vier balle oor. Engeland is boaan Groep B met twee uit twee, terwyl Suid-Afrika derde is en steeds die halfeindronde kan haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-466-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-643-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….