Nuus 06:00
BULLETIN 2 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Appèlhof verwerp Mkhwebane se aansoek
# Die polisiekommissaris bevestig ‘n persoon word ondervra in verband met die Lusikisiki-slagting
# En voorste Europese lugrederye verleng die opskorting van vlugte na die Midde-Ooste
# Die Appèlhof het die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, se verlof tot appèl teen ‘n vorige beslissing van die Hooggeregshof in die Wes-Kaap van die hand gewys en dit gekritiseer as beuselagtig. Mkhwebane het gevra die lede van die Artikel 194-komitee wat haar ampsklag-saak ondersoek, moet hulleself verskoon. Regter Visvanathan Ponnan het beslis haar optrede is in eie belang, en baat nie die Kantoor van die Openbare Beskermer nie. Die hof het Mkhwebane se appèl aan die einde van haar termyn as doodgebore bestempel en haar beveel om alle regskoste te betaal.
Die DA het intussen die beslissing van die Appèlhof verwelkom. Glynnis Breytenbach van die DA sê die hof het met reg beslis Mkhwebane se appèl is prosedureel gebrekkig en absoluut beuselagtig:
# Nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola het bevestig ‘n persoon word ondervra in verband met verlede week se massa-skietvoorval in Lusikisiki in die Oos-Kaap. Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar speurders probeer vasstel of daar voldoende bewyse is om die persoon in hegtenis te neem. Masemola het vertroue uitgespreek dat mense binnekort aangekeer gaan word omdat die polisie sleutel-verdagtes identifiseer het:
# Die televisievervaardiger, Dumakude Ndlovu, en twee medewerkers is borgtog toegestaan na hulle verskyning in die Palm Ridge Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof op aanklagte van belastingbedrog van altesaam 26-miljoen-rand. Ndlovu is op borgtog van 100-duisend-rand vrygelaat, terwyl sy medebeskuldigdes, Rodney Mutsharini en Maxwell Mloyi, elkeen 50-duisend-rand borgtog toegestaan is. ‘n Woordvoerder van die Ondersoekdirektoraat, Henry Mamothame, sê die beskuldigdes moet weekliks by die polisie aanmeld. Hulle verskyn op 11 November weer in die hof:
# Die voorste Europese lugrederye, Lufthansa, KLM en SWISS het aangekondig hulle verleng hul opskorting van vlugte na die Midde-Ooste, in die lig van die spanning wat dwarsdeur die streek toeneem. Dit volg ná Israelse aanvalle op Beiroet, en ‘n waarskuwing deur ‘n senior Withuis-amptenaar dat Iran voorberei om binnekort ‘n ballistiese missielaanval teen Israel uit te voer. KLM het die opskorting van sy daaglikse vlug na Tel Aviv tot die einde van die jaar verleng. Die Duitse lugredery Lufthansa het gesê hy staak vlugte na Beiroet tot en met 30 November.
# Rugby: Leinster verwag die Springbokslot RG Snyman sal binnekort weer kan speel. ‘n Voetbesering het hom verhoed om vir die klub uit te draf sedert hy van Munster geskuif het. Hy het die besering opgedoen voor Suid-Afrika se eerste Rugbykampioenskapstoets teen Australië in Brisbane in Augustus. Leinster se afrigter, Jacques Nienaber, glo Snyman kan in die beginspan ingesluit word vir die naweek se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen Benetton in Treviso. Hy was sedert verlede week gemaklik tydens oefening.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-822-dollar-37-sent. Die prys van goud is twee-duisend-660-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….