Nuus 06:00
BULLETIN 25 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê die regering van nasionale eenheid is ‘n kans om te besin oor goeie regering
# Nersa kondig openbare konsultasie oor Eskom se tariefverhoging aan
# En rugby: Daar is nege veranderinge vir die Bokke teen Argentinië
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die werklike politieke klimaat onder die regering van nasionale eenheid, bied ‘n geleentheid om gesamentlik die erfenis van goeie regering in Suid-Afrika te heroorweeg. Hy het gister die hoofrede gelewer by die Erfenisdag-herdenking in Ficksburg, in die Vrystaat. Mashatile sê met ‘n begrip vir en viering van ‘n gedeelde erfenis kan die land vorentoe beweeg as ‘n verenigde en inklusiewe samelewing:
Mashatile het gister by dieselfde geleentheid erken die regering kon meer gedoen het om voor te berei vir die swaar sneeuneerslag wat in verskeie dele van die land voorgekom het. Verskeie provinsies het die afgelope paar dae onder swaar sneeuval deurgeloop, insluitend KwaZulu-Natal, waar twee mense verkluim het. Mashatile sê Suid-Afrikaners moet voorbereid wees op die uitwerking van klimaatsverandering:
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het Eskom se omstrede versoek om volgende jaar ‘n tariefverhoging van 36-persent in te stel, amptelik gepubliseer. Die DA staan die aansoek teen en sê dit moet verwerp word. Openbare kommentaar oor die voorstel kan tot 1 November ingedien word en openbare verhore sal van 18 November tot 4 Desember plaasvind. Die kragverskaffer wil ʼn totale inkomsteverhoging van 446-miljard-rand in 2026 haal, met verdere verhogings in 2027 en 2028 om moontlik een-duisend-miljard-rand te bereik.
# Die Mamelodi-streekshospitaal in Tshwane is die eerste fasiliteit in Gauteng wat ná uitgebreide opknapping aan die Nasionale Gesondheidsversekering se standaarde voldoen. Die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, het die herstelde afdelings geopen. Dit sluit sale in vir vroue, kinders en mans na operasies. Die hospitaal beskik nou oor 500 beddens en verbeterde mediese toerusting wat nuwe radiologie- en teaterfasiliteite insluit. Die hospitaal se uitvoerende hoof, Naing Soe, het aan News24 gesê die opknappings beperk oorbevolking en pasiënte se wagtyd:
# Minstens 30 ontbinde liggame is gevind in ʼn boot wat sowat 70 kilometer van die kus van die hoofstad van Senegal, Dakar, ronddryf. Volgens ‘n woordvoerder van die Senegalese Weermag is die vloot Sondagaand van die boot in kennis gestel en ʼn patrollieboot is onmiddellik na die gebied ontplooi. Tot dusver is 30 liggame getel en volgens ‘n weermagverklaring sal meer inligting oor die dodetal en die oorsprong van die boot na die ondersoek bekendgemaak word.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus het nege veranderinge en een posisie-verskuiwing gemaak vir hul deurslaggewende Rugbykampioenskap-wedstryd teen Argentinië in Mbombela. Siya Kolisi is opnuut die span se kaptein. Hy is een van ses dubbele Wêreldbeker-wenners wat herroep is. Manie Libbok en Jaden Hendrikse is vir die eerste keer saam as skakelpaar. Eben Etzebeth sal met dié wedstryd die mees bekroonde Springbok van alle tye word. Erasmus sê hy is bly om ’n paar vars spelers terug in die span te hê:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-127-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-660-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….