Nuus 06:00
BULLETIN 10 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Gesondheid veroordeel bewerings oor buitensporige koste vir die Nasionale Gesondheidsversekering
# Die hoofeiser in die Tiger Brands-klasaksie sukkel finansieel
# En die Prinses van Wallis voltooi haar kankerbehandeling
# Die minister van Gesondheid Aaron Motsoaledi het aansprake deur die privaat sektor afgemaak dat die Nasionale Gesondheidsversekering jaarliks 1,3-duisend-miljard-rand sal kos. Motsoaledi betoog die opgeblase getal is wiskundige rampokkery, wat bedoel is om die publiek bang te maak en die NGV se doelwitte te ondermyn. Volgens News24 beraam kritici, onder wie Momentum-gesondheidsversekering, die plan se koste sal soveel wees soos die regering se algehele begroting. Die minister hou vol die NGV sal gesondheidsorgkoste verlaag sonder dat dit te veel staatmaak op privaat hospitale.
# Die MK-party verwelkom die Hooggeregshof in die Wes-Kaap se verwerping van die saak wat aanhangig gemaak is deur tien voormalige lede van die Parlement. Die hof het ten gunste van die party beslis, met koste, nadat die MP’s afgedank is omdat hulle bevele verontagsaam het om nie ingehuldig te word nie. Die MK-party spreek in ‘n verklaring verligting uit, en beklemtoon die saak moes intern hanteer gewees het en dat die uitspraak hulle standpunt bevestig teen swak dissipline in die party.
# Die hoofeiser in die Tiger Brands listeriose-klasaksie, Montlha Ngobeni, sê sy staar finansiële swaarkry in die gesig nadat haar dogter, wat tydens die listeriose-uitbreking gebore is, ernstige komplikasies opgedoen het. Die kind moes ses operasies ondergaan weens listeriose-verwante breinskade, wat voortdurende gesondheidskwessies veroorsaak. Richard Spoor Ingelyf en LHL-prokureurs het die #TigerBrandsMustPay-veldtog van stapel gestuur om vergoeding vir meer as een-duisend eisers aan te vra. Tydens ‘n nuuskonferensie het Ngobeni beweer sy moes haar huis verkoop om mediese rekenings te betaal:
# Die DA se mosie om Knysna se munisipale raad te laat ontbind en ‘n nuwe verkiesing uit te roep, kon nie die vereiste tweederdemeerderheid haal nie. Die ANC, EFF en Patriotic Alliance het teen die mosie gestem. Ryan Smith van die DA, sê hulle het die mosie ingedien om van die versplinterde samestelling van die Knysna-raad ontslae te raak wat saamspan om korrupsie toe te laat en die munisipaliteit te plunder:
# Rugby: Hoofafrigter Scott Robertson verwag moeilike vrae tuis na die All Blacks se rampspoedige besoek aan Suid-Afrika. Die eens gevreesde span het nou vier wedstryde agtereenvolgens teen die Springbokke verloor en is tans in ‘n ongekende derde plek op die Rugbykampioenskapspunteleer. Die Kiwi’s het ook onverwags in hulle eerste wedstryd in die kompetisie teen Argentinië verloor. Volgens Robertson was Saterdag se toets in Kaapstad ʼn fantastiese wedstryd. Hy het die wêreldkampioene gelukgewens en sê hulle weet hoe om dinge te doen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-153-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-506-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte: Die Prinses van Wallis het bevestig dat sy haar chemoterapie-kursus voltooi het, nadat sy in Maart onthul het dat sy met kanker gediagnoseer is. Kensington-paleis het ‘n videomontage vrygestel waarin Catherine saam met haar man en drie kinders verskyn. Die Prinses van Wallis sê die afgelope nege maande was ongelooflik moeilik en die kankerreis is ingewikkeld, skrikwekkend en onvoorspelbaar vir almal:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….