Nuus 06:00
BULLETIN 9 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra vir deursigtigheid in die tender vir slim bestuurslisensies
# Die polisie ondersoek ‘n brand wat 19 voertuie by die Bethlehem-lugskou verwoes
# En rugby: Die Haaie klop die Bulle in ‘n kleedrepetisie vir die Curriebeker-halfeindstryd
# Die DA doen ‘n dringende beroep op die Portefeuljekomitee vir Vervoer om ‘n volledige verduideliking van die Lughawensmaatskappy Suid-Afrika te vra oor sy onlangse beëindiging van ‘n kontrak van 115-miljoen-rand met IDEMIA Identity and Security South Africa. Chris Hunsinger van die party sê hierdie kwessie is dringend omdat IDEMIA deur die Departement van Vervoer gekies is as die voorkeurbieër, vir die vervaardiging van nuwe slim rybewyskaarte:
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola het misdadigers en sindikate wat by afpersing betrokke is, gewaarsku dat hulle vasgevat gaan word. Altesaam 73-persent van afpersingsmisdade kom in vier provinsies voor, naamlik KwaZulu Natal, Oos-Kaap, Gauteng en Wes-Kaap. Die kommissaris het gister die Oos-Kaap besoek ná ‘n aanval op ‘n lid van die Nasionale Intervensie-eenheid in Mthatha. Hy was besig om bewerings van afpersing in die gebied te ondersoek. Masemola sê ‘n gesamentlike poging is nodig om die oorlog teen afpersers te wen:
# Die Vrystaatse polisie ondersoek ‘n brand nadat 19 voertuie die naweek by die Bethlehem Lugskou beskadig en verwoes is. Polisiewoordvoerder, Loraine Earle, sê die brand het buite die terrein begin waar die Bethlehemse Lugskou plaasgevind het. Sy sê sterk wind het die brand vinnig laat versprei:
# Drie mense is dood in ʼn aanval op die grens tussen Jordanië en die Wesoewer. Die Israelse Weermag sê drie Israelse burgerlikes in hulle vyftigerjare is dood in ʼn skietery by die Allenbybrug-kruising. Die aanvaller het die gebied vanaf die Jordaniese kant van die pad genader, uitgeklim en begin skiet. Die voorval het in ‘n gebied plaasgevind wat deur Israel beheer word waar Jordaniese voertuie wat goedere aflaai die Wesoewer binnegaan. Die kruising is ongeveer halfpad tussen Amman en Jerusalem en die enigste amptelik oorgangspunt tussen die Wesoewer en Jordanië.
# Rugby: Die Haaie het momentum opgebou vir die uitklopfase van die Curriebeker nadat hulle die Bulle met 24-18 in Durban geklop het. Albei spanne het twee drieë elk gedruk, maar dit was die skopskoen van die losskakel Siya Masuku wat die verskil gemaak het, met vier strafskoppe en ‘n doelskop. Die twee spanne sal mekaar Saterdag weer die stryd aansê wanneer hulle in die halfeindronde op Loftus Versfeld in Pretoria uitdraf. In die ander Curriebeker-halfeindstryd is die voorlopers, die Leeus, gasheer vir die Cheetahs.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 54-duisend-925-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-496-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-2-sent per vat.
# En laastens: Hierdie week is SA Nasionale Parkeweek, ‘n geleentheid vir mense om die meeste van die land se nasionale parke gratis te besoek. Die eerste SANParke-week is in 2006 gehou en was daarop gemik om die Suid-Afrikaanse nasionale parkestelsel aan die wêreldwye nasionale beweging te koppel. SANParke sê hy gebruik hierdie week om ‘n gevoel van trots te kweek in die land se natuurlike, kulturele en geskiedkundige erfenis, wat hy beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….