Nuus 06:00
BULLETIN 4 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA dring aan op nasionale optrede teen die afpersers
# Oekraïne se minister van Buitelandse Sake veroordeel ‘n dodelike Russiese missielaanval
# En atletiek: Bayanda Walaza wys aanbiedinge van oorsese universiteite van die hand
# Die DA vra vir dringende nasionale optrede om die groterwordende afpersingskrisis die hoof te bied en waarsku dit hou ‘n beduidende risiko in vir ekonomiese stabiliteit. Ian Cameron van die DA het tydens ‘n Parlementêre debat daarop gewys afpersing versprei vinnig oor verskeie sektore, insluitend kleinsake, openbare dienste en die boubedryf. Cameron vra vir gespesialiseerde eenhede, strenger gemeenskapspolisiëring en om die grondoorsake van misdaad, soos armoede en werkloosheid, aan te spreek:
Die EFF kritiseer intussen Mchunu se benadering tot afpersing, en beskuldig hom van ‘n gebrek aan ‘n konkrete strategie en dat hy eenvoudig ‘n oefening in openbare betrekkinge aanbied. Die party meen die huidige maatreëls, waaronder samewerking met provinsiale regerings en privaat sekerheidsmaatskappye, is sonder sukses aangewend. Mbuyiseni Ndlozi van die EEF het ‘n meer omvattende strategie geëis wat teen-intelligensie insluit:
# Die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge het eenparig ‘n verhoor verdaag oor die Nasionale Vaardigheidsfonds en die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente nadat die adjunkminister Buti Manamela nie opgedaag het nie. Manamela het glo ‘n akademiese program in Johannesburg van stapel gestuur. Die voorsitter van SKOOR, Songezo Zibi, kritiseer Manamela se afwesigheid as onaanvaarbaar, en beklemtoon die behoefte aan aanspreeklikheid. SKOOR eis ‘n ministeriële verskyning om dwingende kwessies wat duisende studente raak aan te spreek.
# Oekraïne se minister van Buitelandse Sake, Dmytro Kuleba, het die Russiese aanval op ‘n militêre opvoedkundige instelling in Sentraal-Oekraïne veroordeel. Ten minste 49 mense is dood en meer as 200 beseer. Volgens voorlopige inligting is die aanval met twee ballistiese missiele uitgevoer. Dit is een van die dodelikste aanvalle sedert die begin van Moskou se volskaalse aanslag in Februarie 2022. Kuleba het aan CNN gesê die beperkings wat op Oekraïne ingestel is om sekere wapens teen Rusland te gebruik, moet opgehef word:
# Atletiek: Die jong naelloopsensasie, Bayanda Walaza, het aanbiedinge van verskeie oorsese universiteite van die hand gewys en sal in Suid-Afrika bly om verder te studeer en sy sportloopbaan voort te sit. Hy het sy deurbraak tydens die Olimpiese Spele in Parys gemaak toe hy silwer verower het as deel van die vier-maal-100-meter-aflosspan en daarna twee keer in die naellope goud losgeslaan by die Wêreld Onder-20-kampioenskap in Peru. Walaza is tans in matriek by Curro Hazeldean in Pretoria en sal aanstaande jaar met sy studies aan die Universiteit van Pretoria begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-662-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-493-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-68-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse akteur Nomzamo Mbatha en Robert Irwin, die seun van die ontslape wildkenner Steve Irwin, is aangewys as die eerste Earthshot Global-ambassadeurs. Die Earthshot-prys is in 2020 deur prins William en die natuurhistorikus David Attenborough bekendgestel om innoverende oplossings vir klimaatsverandering te vind. Die Prins van Wallis ken van 2021 tot 2030 die prys saam met ‘n paneel wat die ses vastelande verteenwoordig, aan vyf wenners toe. Die toekennings, wat voorheen in Londen, Boston en Singapoer gehou is, sal vanjaar in Kaapstad plaasvind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….