Nuus 06:00
BULLETIN 3 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Eskom neem die voortou met die bemagtiging van vroue in die werkplek
# Die Tshwane-burgemeester sê sy prioriteit is om die huidige koalisie te beskerm
# En rugby: Rassie Erasmus sal sy groep vir die Kaapstad-toets Donderdag aanwys
# President Cyril Ramaphosa sê Eskom is ‘n leier om vroue in die werkplek te bemagtig. In sy weeklikse nuusbrief sê hy die nutsmaatskappy het die verteenwoordiging van vroue in die werkplek suksesvol vergroot, met 43-persent vroue in bestuursposisies en 20-persent in uitvoerende poste. Eskom se vroue-program het tien jaar gelede begin en ook die salarisgaping tussen geslagte verklein en aankope van ondernemings in besit van swart vroue vergroot. Ramaphosa vra ander maatskappye om Eskom se voorbeeld te volg om geslagsgelykheid te bevorder, diskriminasie uit te skakel en meer inklusiewe werkplekke te bevorder.
# Die Nasionale Vakbond vir Onderwys, Gesondheid en Verwante Werkers het die vakbond se posisie ten opsigte van die regering van nasionale eenheid en sy verhouding met die ANC verduidelik. Nehawu en die ANC het ʼn gesamentlike verklaring uitgereik om die spanning in KwaZulu-Natal by te lê. Die president van Nehawu, Mike Shingange, sê die vakbond respekteer die demokratiese proses maar het voorbehoude oor die huidige politieke raamwerk en regeringsamestelling. Shingange ontken sommige vakbondleiers beplan om by die MK-party aan te sluit:
# Die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, sê hy is nie behep om die pos te beklee nie, maar die huidige koalisie moet behoue bly om sy goeie werk voort te sit. ActionSA sê hy gaan die huidige regerende koalisie verlaat en by die ANC en EFF aansluit om die burgemeester uit die kussings te lig. Die ANC het verlede week ‘n mosie van wantroue teen Brink tydelik teruggetrek nadat hy hofdokumente voorgelê het. Brink het herhaal dat ‘n koalisieregering bestaande uit die ANC en die EFF ‘n verskriklike vooruitsig vir inwoners sal wees.
Die DA in Theewaterskloof veroordeel intussen ‘n koalisie wat gevorm is deur klein opposisiepartye en die ANC vir die uitsetting van die DA-burgemeester Lincoln de Bruyn. Tertuis Simmers van die DA beweer dit volg op die burgemeester se pogings om die misbruik van Rampbestuurfondse te stop. Hy kritiseer die Vryheidsfront Plus vir die steun van die mosie, en noem dit ‘n weerspreking van ‘n ooreenkoms tussen die partyleiers:
# Die Amerikaanse president Joe Biden sê Israel se premier Benjamin Netanyahu doen nie genoeg om ‘n gyselaarsooreenkoms en ‘n skietstilstand met Hamas te verseker nie. Hy en visepresident Kamala Harris het gister in die Withuis met onderhandelaars vergader. Dit volg nadat honderd-duisende betogers regoor Israel die strate ingevaar het en hul woede getoon het oor die regering se versuim om ‘n skietstilstand-ooreenkoms te bewerkstellig. Na wat berig word, kan die VSA wegstap van die onderhandelingstafel as Israel en Hamas weier om die finale ooreenkoms te aanvaar.
# Rugby: Springbok-afrigter, Rassie Erasmus sal Donderdag sy groep vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks in Kaapstad aankondig, en nie vandag soos gewoonlik nie. Kenners wonder of dit ʼn slenter is om Nieu-Seeland aan die raai te hou of omdat hulle nog onseker is oor sekere spankeuses. Daar is onsekerheid oor kaptein Siya Kolisi en die vleuel Kurt-Lee Arendse, wat albei beseer is tydens die eerste toets op Ellispark. Skrumafrigter Daan Human sê al die ander spelers is fiks.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-177-dollar-63-sent. Die prys van goud is twee-duisend-497-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….