Nuus 06:00
BULLETIN 6 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die Mkhwanazi-komitee moet beslissende optrede tot gevolg hê
# Die EFF verwelkom die hofuitspraak oor haatspraak teen Kenny Kunene
# En daar was meer as 600-duisend aanlyn aansoeke tot dusver vir graad 1 en 8 in Gauteng
# Die DA sê die ad hoc-komitee wat gestig is om politieke inmenging en korrupsie in die polisiediens te ondersoek, dra ‘n reuse-verantwoordelikheid om te bewys dat die Parlement se toesighoudende magte werklik en afdwingbaar is. Die komitee het Dinsdag sy eerste vergadering gehou, waartydens Sowjet Lekganyane van die ANC as voorsitter verkies is. Die DA sê hulle sal druk uitoefen dat die komitee alle SAPD-leiers wat betrek word identifiseer, alle strafregtelike bevindinge na die Vervolgingsgesag, Ondersoekeenheid en OPOD verwys, en ‘n tydelike, onafhanklike toesigspan stig om sistemiese hervormings binne die SAPD aan te dryf.
ActionSA sê intussen hy sal die integriteit van die parlementêre ondersoek beskerm. Die party het kommer uitgespreek oor die aanstelling van ANC-parlementslid, Soviet Lekganyane, as voorsitter, en sê die posisie mag nie gevul word deur iemand van die party wat by die bewerings betrokke is nie. Dereleen James van ActionSA sê hulle sal verseker dat die ondersoek onafhanklik en deursigtig uitgevoer word:
# Die EFF het die uitspraak van die Suid-Gautengse Hooggeregshof verwelkom wat bevestig die geskorste adjunkpresident van die Patriotic Alliance, Kenny Kunene, is skuldig aan haatspraak. Die hof het bevestig dat Kunene se verwysing na die EFF-leier Julius Malema as ‘n ‘kakkerlak’ kwetsend en onregmatig was. Die EFF se woordvoerder, Sinawo Thambo, beskou die uitspraak as ‘n oorwinning vir waardigheid en politieke ordentlikheid. Hy eis ‘n openbare verskoning van Kunene. Die aansoek tot appèl is met koste van die hand gewys.
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê meer as 600-duisend suksesvolle aansoeke is geregistreer gedurende die aanlyn 2026-aansoektydperk vir graad 1 en graad 8. Hierdie mylpaal is gister bereik, net minder as twee weke nadat die stelsel op 24 Julie vir aansoeke geopen het. Die aansoektydperk sluit op die 29ste van hierdie maand. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê aansoekers met volledige voorleggings sal vanaf 16 Oktober plasingsaanbiedinge begin ontvang:
# Die regering van Rwanda sê hy sal tot 250 migrante van die Verenigde State aanvaar, maar het nie besonderhede gegee oor wie by die ooreenkoms ingesluit kan wees nie. Washington is besig met ‘n deportasieveldtog, met President Donald Trump se administrasie wat omstrede reëlings onderhandel om mense na derdewêreldlande te stuur, onder andere Suid-Soedan en Eswatini. Dit volg na ‘n gekanselleerde ooreenkoms met Brittanje, waar Kigali gedeporteerde onwettige migrante vanuit Brittanje sou ontvang het. Rwanda sê hy sal elke persoon wat deur Amerika voorgestel word, onafhanklik goedkeur.
# Die Kaapse Forum vra die Suid-Afrikaanse Rugbyunie om dringend die ondersoek na beweerde skeidsregter-omkopery in die Boland-rugbyunie oor te neem. Die groep verklaar Boland Rugby is reeds ‘n geruime tyd bewus van die bewerings, maar het eers opgetree nadat ‘n verklikker na vore gekom het. Heindrich Wyngaard van die forum waarsku die skandaal kan rugby se aansien benadeel en skeidsregters se veiligheid in gevaar stel voor die Top 12-toernooi in die Wes-Kaap:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-46-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-381-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….