Nuus 06:00
BULLETIN 2 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mpumelelo Mhlongo verseker SA se eerste medalje by die Paralimpiese Spele
# Paul Mashatile sê moorde op polisielede is hoogverraad
# En AfriForum sê die hofuitspraak oor mynbou sonder vergoeding skep ‘n gevaarlike presedent
# Ons begin met nuus van die Paralimpiese Spele: Die naelloper Mpumelelo Mhlongo het goud gewen in die mans T44 100 meter-finaal, en só Suid-Afrika se eerste medalje by die Spele in Parys verseker. Hy het in sy beste tyd die seisoen met 11,12-sekondes afgereken met Yamel Vives Suares van Kuba wat die silwer gewen het en Eddy Bernard van Maleisië wat brons opgeëis het. Intussen het Khumo Pitso vyfde geëindig in die mans se T24 hoogspring, terwyl Liezel Gouws agtste was in die vroue se T37 verspring.
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê misdadigers het brutaal geword in hul desperate pogings om misdade te pleeg. Hy het die hoofrede by die polisie se jaarlikse herdenkingsdag gelewer om hulde te bring aan die mans en vroue in blou wat in die uitvoering van hul pligte gesterf het. Die geleentheid is by die Polisiegedenkteken by die Uniegebou in Pretoria gehou. In die 2023/2024-boekjaar is 39 polisielede in die uitvoering van hul pligte vermoor. Mashatile sê die moord op polisielede is hoogverraad:
Die minister van Polisie, Senzo Mchunu sê intussen hulle ondersoek die moontlikheid om families by te staan om siviele eise in te stel teen diegene wat verantwoordelik is vir die moorde op polisiebeamptes. Mchunu het by dieselfde geleentheid in Pretoria gesê misdadigers kan nie deel word van bestuur nie:
# AfriForum het kommer uitgespreek oor ‘n onlangse uitspraak deur die Hooggeregshof in Mpumalanga wat mynbedrywighede sonder vergoeding toelaat op ‘n boer van Delmas se grond. AfriForum en die familieboerenetwerk, Saai, waarsku die besluit kan ernstige gevolge inhou vir landbou in Suid-Afrika. Ten spyte van die gebrek aan ‘n vergoedingsooreenkoms het die hof die myn toegelaat om voort te gaan, wat moontlik voedselsekerheid bedreig en ‘n kommerwekkende presedent skep. Marais de Vaal van AfriForum sê die organisasie win regsadvies in oor die uitspraak se breër uitwerking.
# Die DA in Gauteng kryt die Gautengse Departement van Onderwys uit na die ontdekking dat duisende leerders hongerly weens ‘n mislukte een-miljard-rand voedingskema-tender. Tydens ‘n oorsigbesoek aan die GR Harris Primary School in Bosmont het die DA gevind die skool het drie weke lank nie groente ontvang nie, wat hulle gelaat het met net ‘n beperkte voorraad rys, hoenderlewers en soja. Die DA eis onmiddelike optrede om die krisis te hanteer.
# Die Israelse Weermag sê hulle het die liggame van ses gyselaars gevind wat deur Hamas in Gaza vermoor is, insluitend ‘n Israelies-Amerikaanse gevangene. Die liggame is in ‘n ondergrondse tonnel in die Rafah-gebied in die suide van Gaza opgespoor. Na wat berig word, sou drie van die ses wie se liggame nou gevind is, vrygelaat word tydens die eerste fase van ‘n skietstilstand-ooreenkoms. Die Israelse premier Benjamin Netanyahu sê hulle sal nie rus totdat diegene wat verantwoordelik is vir die moorde vervolg is nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-363-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-503-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….