Nuus 06:00
BULLETIN 22 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die geskorste MK-LP’s se hofsaak kom op 3 September voor
# SA Rugby maak belangrike veranderinge aan sy afrigtingspan
# En huldeblyke stroom in vir ‘n bekende wiskunde- en wetenskaponderwyser
# Tien van die 18 MK-party-parlementslede wat geskors is se saak sal op 3 September in die Hooggeregshof in die Wes-Kaap aangehoor word. Hulle regsverteenwoordiger Wendy Cele sê die LP’s beweer vervalste bedankingsbriewe is geskep. Sy sê die hofbevel wil keer dat ander kandidate se name aan die parlement voorgelê word voordat hulle hersieningsaansoek bygelê is:
# Die EFF het gerugte ontken dat die senior leier Mbuyiseni Ndlozi na Floyd Shivambu se uittrede, ook uit die party bedank het. Die woordvoerder van die EFF, Leigh-Ann Mathys, het gerugte op sosiale media oor sy uittrede verwerp. Ndlozi swyg steeds oor Shivambu se vertrek. Die nasionale voorsitter van die EFF, Veronica Mente, het ook die gerugte afgemaak, en klem gelê op die party se sterkte ondanks interne spanning.
# Die leier van ActionSA, Herman Mashaba sê ‘n nuwe era van bestendigheid, goeie bestuur en doeltreffende dienslewering het in die Stad Johannesburg aangebreek. Dit volg nadat die party se koukusleier, Nobuhle Mthembu tot speaker verkies is. Haar verkiesing in die amp is ondersteun deur die ANC-EFF-koalisie met 180 raadslede wat vir haar gestem het. Mashaba sê hy vertrou ActionSA en die ANC se samewerking in die metro.
# Die Stad Kaapstad moedig die Nasionale Energiereguleerder aan om Eskom se voorgestelde 44-persent tariefverhoging te verwerp. Die burgemeester Geordin Hill-Lewis meen die verhoging, aangevuur deur Eskom se finansiële wanbestuur, sal kleinsakeondernemings en huishoudings swaar tref, veral vir lae-inkomstegesinne. Volgens Hill-Lewis belê die stad in sy eie energie-infrastruktuur om afhanklikheid van die kragnutsmaatskappy te verminder en die uitwerking van toekomstige tariefverhogings teen te werk:
# Rugby: SA Rugby het belangrike veranderings aangebring aan die afrigtingspan van sy nasionale spanne om dieselfde sukses te behaal as die Springbokke. Die voormalige Springbok-konsultant Swys de Bruin is aangestel as die Springbok-vroue se prestasie-afrigter, tot die Vrouerugby-wêreldbeker in Engeland in September 2025. Die voormalige Springbok Sewes-kaptein Kevin Foote keer terug na Suid-Afrika van Australië om die Junior Springbokke te lei en Bafana Nhleko is van die SA Onder 20’s na die senior vroue-vyftienspan herontplooi..
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-82-dollar-93-sent. Die prys van goud is twee-duisend-512-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-6-sent per vat.
# En ten slotte: Huldeblyke stroom in vir die Suid-Afrikaanse leerkrag William Smith, wat bekend was vir sy wiskunde- en wetenskaplesse op televisie. Die 85-jarige, wat onlangs met kanker gediagnoseer is, is in Perth, Australië, oorlede. Die ANC sê Smith se toewyding om ingewikkelde vakke vir talle studente toeganklik en boeiend te maak, het ’n onuitwisbare merk op die onderwys gelaat. Die DA sê Smith het wiskunde- en wetenskaponderrig vir talle studente omskep en die IVP sê sy nalatenskap sal voortleef in die ontelbare lewens wat hy verander het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….