Nuus 06:00
BULLETIN 20 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Teenkorrupsie-ondersoekdirektoraat is nou ‘n permanente eenheid
# Minister Mchunu verdedig die skietgevegte tussen verdagtes en die polisie
# En gemengde gevegskuns: Du Plessis het meer as nege-miljoen-rand verdien met sy titelgeveg
# Die Teenkorrupsie-ondersoekdirektoraat is nou ‘n permanente eenheid binne die Nasionale Vervolgingsgesag nadat regulasies gister in die Staatskoerant gepubliseer is. Terwyl die direktoraat al vyf jaar bedrywig is om sake uit die Staatskapingskommissie te ondersoek, was dit slegs ‘n tydelike eenheid binne die NVG. President Cyril Ramaphosa het in Mei die NVG-wysigingswet onderteken. Die Teenkorrupsie-ondersoekdirektoraat sal die regering se vermoë om ingewikkelde korrupsiesake te ondersoek verbeter en onder meer die beslissings van kommissies van ondersoek uitvoer.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur Dean Macpherson vra kundiges in die beboude omgewing om aan te sluit by twee raadgewende komitees gefokus op batebestuur en infrastruktuur-lewering. Die komitees sal strategiese leiding gee om uitdagings te pak soos bouvertragings en onderprestasie deur kontrakteurs. Macpherson nooi beroepslui, onder andere ingenieurs en infrastruktuur-ekonome, om teen 30 Augustus aansoek te doen:
# Die voorsitter van die ANC in Gauteng Panyaza Lesufi vra verhoogde dissipline en betaamlike gedrag onder partylede. Op ‘n nuuskonferensie ná die provinsiale uitvoerende komitee se lekgotla in Boksburg, het hy kommer uitgespreek oor leiers wat in die openbaar besluite deur die organisasie kritiseer en demokratiese prosesse ondermyn. Lesufi verwerp aansprake dat die party in die provinsie teen sy nasionale leierskap opgetree het deur ‘n regering sonder die DA te vorm:
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu het die onlangse skietgevegte tussen verdagtes en die polisie verdedig en beklemtoon beamptes sal nie onttrek wanneer daar op hulle geskiet word nie. Die minister het gister Umlazi in KwaZulu-Natal besoek om respek te betoon aan die families van die ses mense wat die naweek in ‘n skietgeveg met die polisie dood is. In Ntuzuma is drie verdagtes, insluitend ‘n polisiebeampte, gedood ná ‘n rooftog Sondag. Mchunu het ook polisielede wat by kriminele aktiwiteite betrokke is, veroordeel:
# Rusland sal nie met Oekraïne onderhandel nie gegewe sy inval in die Russiese Kursk-streek. Die inval het Rusland onkant betrap en is nou reeds in sy tweede week. Oekraïne het op 6 Augustus troepe oor die grens gestuur en beset steeds ‘n deel van die Kursk-gebied, ‘n aanval wat Moskou geskud het. ‘n Woordvoerder van die Kremlin, Yuri Ushakov, het aan plaaslike media gesê dit sal op die oomblik totaal onvanpas wees om te begin onderhandel.
# Gemengde gevegskuns: Dricus du Plessis het amper nege-miljoen-rand in sy sak gesteek na Sondag se verdediging van die UFC-wêreldtitel teen die Nigeries-gebore Nieu-Seelander Izzy Adesanya in Perth, Australië. Die Suid-Afrikaner het nog 750-duisend-rand uit borgskappe verdien. Adesanya het net minder as 18-miljoen-rand gekry, plus borgskappe van 570-duisend-rand. Kenners verduidelik UFC-vegters word ‘n vaste fooi betaal, gegrond op hulle gewildheid en onlangse uitslae, ondanks die uitkoms van ‘n kragmeting. Du Plessis het in Januarie 6,2-miljoen-rand ryker geword nadat hy klaargespeel het die Amerikaner Sean Strickland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-350-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-503-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….