Nuus 06:00
BULLETIN 8 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Estina-suiwelplaassaak is van die rol geskrap
# Die verteenwoordiging van vroue in die Parlement het afgeneem ná die verkiesing
# En Olimpiese Spele: Wayde van Niekerk slaag nie daarin om die 200-meter-finaal te haal nie
# Die Vrystaatse Hooggeregshof het die Estina-melkplaassaak van 280-miljoen-rand van die hofrol geskrap. Dit volg nadat die verdediging aangevoer het die staat het nie sy ondersoek ten volle blootgelê nie, insluitend die sogenaamde uitgelekte Gupta-e-posse. Die saak spruit uit die beweerde plundering van staatsfondse deur onder meer die voormalige Vrystaatse LUR vir Landbou, Mosebenzi Zwane en ander Gupta-medewerkers. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Mthunzi Mhaga, sê die saak sal so gou moontlik hervat word:
# Die inkrimping van die ANC se meerderheid ná die Mei-verkiesing het bygedra tot die afname in vroueverteenwoordiging in die Nasionale Vergadering. Dit is volgens ‘n geslagsoudit van die verkiesing. Die verteenwoordiging van vroue het ná die verkiesing van 46-persent in 2019 tot 43-persent gedaal. Volgens die oudit het die EFF en ANC ‘n groter verteenwoordiging van vroue in die Parlement as ander partye met onderskeidelik 54-persent en 53-persent. Die GOOD-party is die enigste parlementêre party wat deur ‘n vrou gelei word.
# Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe verwelkom die inhegtenisneming van pastoor Paseka Mboro Motsoeneng en sy mede-beskuldigdes vir geweld. Die beskuldigdes het onderwysers en leerders met wapens geïntimideer by die Matsediso Primary School in Katlehong. Die kommissie het sy spyt uitgespreek dat ‘n godsdiensleier nie beter keuses kon maak nie. Daar is ook kommer oor die moontlike trauma vir leerders en opvoeders. Die kommissie vra leiers om hoë morele standaarde te handhaaf en vir ‘n spoedige ondersoek.
# Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, versoek president Cyril Ramaphosa om nie die Wetsontwerp op Openbare Verkryging te onderteken nie en waarsku dit kan plaaslike dienslewering belemmer en munisipale outonomie ondermyn. Hill-Lewis voer aan die Wetsontwerp sal lei tot oormatige rompslomp, verkryging sentraliseer en belegging in infrastruktuur ontwrig. Hy dreig om die Wetsontwerp grondwetlik uit te daag indien dit in sy huidige vorm wet word:
# President Cyril Ramaphosa vertrek vandag op ‘n werksbesoek aan Angola om met president João Lourenço te vergader. Die besoek sal fokus op die versterking van bilaterale betrekkinge, gegrond op hulle historiese bande wat tydens die bevrydingstryd teen kolonialisme en apartheid gesmee is. Die woordvoerder van die Presidensie Vincent Magwenya sê die leiers sal ook praat oor die voortslepende krisis in die Demokratiese Republiek die Kongo, waar die sekerheidstoestand sedert verlede jaar versleg het:
# Olimpiese Spele: Suid-Afrika se 400-meter-wêreldrekordhouer, Wayde van Niekerk, en Shaun Maswanganyi kon nie die mans 200-meter-finaal in Parys haal nie. Van Niekerk het sewende in sy uitdun geëindig met Maswanganyi vierde. Miranda Coetzee was laaste in die derde uitdun van die 400-meter-halfeind vir vroue. Julia Vincent het gekwalifiseer vir die halfeind van die drie-meter-duik vir vroue, terwyl Hamish Lovemore in kanovaart deurgedring het na die halfeindronde van die mans-enkelkano oor ‘n duisend-meter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 20-rand-12-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-57-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-384-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….