Nuus 06:00
BULLETIN 24 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie gee voorrang aan groter samewerking om staatsbestuur te versterk
# Action Society striem die toekenning van twee-miljard-rand aan die BBP-beskermingseenheid
# En rugby: Rassie Erasmus sê sy spelers is gereed vir aksie in die Rugbykampioenskap
# President Cyril Ramaphosa sê die Presidensie gee voorrang aan groter samewerking tussen regeringsfere om staatsbestuur te versterk en te reageer op die behoeftes van Suid-Afrikaners. Ramaphosa het aan die Parlement gesê die Distriksontwikkelingsmodel, die Presidensiële Imbizo-program en die adjunkpresident se program spreek probleme met dienslewering aan. Hy het bygevoeg wetenskap, tegnologie en innovering is noodsaaklik vir ekonomieë om te floreer:
# Action Society het die minister van polisie, Senzo Mchunu se aankondiging veroordeel dat twee-miljard-rand aan BBP-beskerming afgestaan word. Die minister het verlede week die Suid-Afrikaanse Polisiediens se begroting van 113,5-miljard-rand vir die 2024/2025-boekjaar ter tafel gelê. Juanita du Preez van Action Society sê die geld wat aan die BBP-beskerming toegewys word, moet liewer gebruik word om Suid-Afrikaners te beveilig, nie om aan ministers luukse spesiale dienste te verskaf ten koste van die belastingbetaler nie:
# Die LUR vir Onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, is besorg oor 146-duisend-268 onvolledige aanlyn aansoeke vir Graad 1- en Graad 8-plasings. Ouers moet teen 12 Augustus die aansoekproses in vyf stappe voltooi wat insluit die inlewering van besonderhede, aansoek doen by skole en indiening van dokumente. Die woordvoerder van die Departement van Onderwys, Steve Mabona, waarsku onvolledige aansoeke kan plasing in die gedrang bring:
# Die ANC in die Wes-Kaap versoek die provinsiale regering om aan langtermynoplossings te werk om infrastruktuur te herbou en te versterk en om apartheid se ruimtelike beplanning aan te spreek. Dit volg op die gure weer wat die provinsie onlangs geteister het. In Kaapstad alleen is 158-duisend-en-97 mense geraak en 47-duisend-663 strukture oorstroom of beskadig. Die ANC-leier in die wetgewer, Khalid Sayed sê die verklaring van ‘n ramptoestand is ‘n deurslaggewende stap om hulpbronne en ondersteuning te gee aan diegene wat geraak is.
# Die Hollywood-hartebreker George Clooney, een van die eerste hoëprofiel- Demokratiese aktiviste wat Joe Biden aangemoedig het om nie herverkiesing na te jaag nie, het sy steun uitgespreek vir Kamala Harris. Clooney sê in ‘n verklaring president Biden het gewys wat ware leierskap is. As ‘n groot fondsinsamelaar vir Demokratiese kandidate en jarelange Biden-ondersteuner, het Clooney twee weke gelede weggebreek deur openlik die 81-jarige president te vra om opsy te staan vir ‘n jonger kandidaat en die party ‘n beter kans te gee om Donald Trump in November te verslaan.
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê hulle het volle vertroue in die spelers om nog ‘n deurbraak te maak in die Rugbykampioenskap, wat op die tiende van volgende maand teen die Wallabies in Brisbane afskop. Die groep bestaan uit 22 Wêreldbeker-wenners en vyf nuwelinge wat vanjaar hul buiging gemaak het. Erasmus sê die groep, wat ‘n mengsel van jeug en ervaring insluit, is die beste groep spelers wat hulle vir hierdie moeilike uitdaging kon kies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-959-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-408-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….