Nuus 06:00
BULLETIN 23 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement wil hê die Nasionale Tesourie moet sy krimpende begroting hersien
# Business Unity SA dring aan dat president Ramaphosa die planne in sy openingstoespraak in werking stel
# En Olimpiese Spele: Israelse atlete ontvang 24 uur-sekuriteit in Parys
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, sê hulle praat tans met die Nasionale Tesourie oor die befondsingsmodel van die Parlement. Die 2024/2025-begroting vir die Parlement is vasgestel op 4,436-miljard-rand, insluitend 500-miljoen-rand vir die opknapping van parlementêre geboue en fasiliteite. Didiza sê die Parlement se begroting het mettertyd afgeneem, wat sy werk negatief beïnvloed. Sy sê die brand by die Parlement het groter finansiële druk veroorsaak en die doeltreffendheid van die instansie benadeel.
# Business Unity South Africa vra president Cyril Ramaphosa om die planne in te stel wat hy in sy toespraak met die opening van die Parlement uiteengesit het. Die uitvoerende hoof, Khulekani Mathe, beklemtoon die behoefte aan inklusiewe en transformerende groei, te midde van hoë werkloosheid teen 32,9-persent. Hy onderstreep die belangrikheid van werksekuriteit en moedig die regering van nasionale eenheid aan om iets te doen aan uitdagings in plaaslike regering:
# ‘n Koalisie van godsdiens- en kulturele leiers, wat meer as 20-miljoen lede verteenwoordig, eis ‘n dringende vergadering met die Departement van Basiese Onderwys om die instelling van werktuie vir geslagsreagerende onderwys vir vroeë kinderjare stop te sit. Die koalisie betoog dit bevorder die transgender-ideologie onder jong kinders, ondermyn ouerlike regte en dwing ‘n enkele ideologiese wêreldsiening af. Hulle jaag ‘n moratorium na teen die gebruik daarvan, betekenisvolle openbare skakeling en deursigtigheid in die departement se inisiatiewe.
# Die ANC in Gauteng het die regering van provinsiale eenheid se stappe verwelkom om die probleme met betalings aan organisasies sonder winsbejag op te los. Vertragings is veroorsaak deur veranderinge aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se befondsingsproses en sommige organisasies moes sluit. Die provinsiale regering sê hy onderneem om organisasies betyds te betaal. Die ANC-woordvoerder, Lesego Makhubela, sê die regering wil sy verhouding met hierdie sektor herstel:
# Die Amerikaanse visepresident Kamala Harris word deur al hoe meer Demokratiese swaargewigte onderskryf as die party se kandidaat vir die verkiesing na president Joe Biden se besluit om te onttrek. Die kongreslid van Kalifornië Adam Schiff sê die party is nuwe lewe gegee deur die moontlikheid dat Harris voormalige president Donald Trump in November kan teenstaan. Die goewerneur van Kentucky, Andy Beshear, beskryf die voormalige prokureur-generaal van Kalifornië as slim en sterk. Die Demokratiese nasionale konvensie, waar die kandidaat gekies sal word, begin op die 19de van volgende maand.
# Olimpiese Spele: Israel se deelnemers by die Spele in Parys sal 24-uur beskerming kry te midde van spanning in die Gazastrook. Dit volg nadat die verlinkse wetgewer Thomas Portes gesê het die Midde-Oosterse land se atlete is nie welkom in Frankryk nie, en betogings gevra het teen hulle deelname. Die byeenkoms word gehou 52 jaar nadat elf Israeli’s in 1972 tydens die Spele in München in Duitsland dood is in ‘n terroriste-aanval. ‘n Gedenkdiens vir die slagoffers is verskuif van die stadsaal in Parys na die Israelse ambassade.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-390-dollar-95-sent. Die prys van goud is twee-duisend-395-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….