Nuus 06:00
BULLETIN 1 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank oorweeg verdere terugkoopkoersverlagings
# Professor Firoz Cachalia word vandag as die nuwe waarnemende minister van Polisie ingehuldig
# En Donald Trump doen ‘n beroep op Hamas om oor te gee en die oorblywende gyselaars vry te laat
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank sê hy verkies dat inflasie op drie-persent bly, minder as die huidige teiken van drie- tot ses-persent. Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê laer inflasie kan laer terugkoopkoerse beteken, met modelle wat toon koerse sal mettertyd onder ses-persent daal. Kganyago beklemtoon die skuif is daarop gemik om verwagtinge te anker, die rand te ondersteun en leningskoste oor die langtermyn te verminder. Hy is van mening dit sal toekomstige teikens lei:
Die regering verwelkom intussen die besluit van die Reserwebank en sê dit sal die druk op sukkelende huishoudings verminder. Dit word verwag dat die rentekoersverlaging leningskoste sal verlaag, beleggings sal stimuleer en ondernemings ondersteun. Die regeringswoordvoerder Nomonde Mnukwa, sê die besluit ondersteun pogings om inklusiewe groei, werkskepping en ekonomiese hervorming aan te wakker:
# Die DA het die skuldigbevinding van adjunkpresident Paul Mashatile deur die Parlementêre Gesamentlike Etiekkomitee verwelkom. Die komitee het beslis die Nasionale Vergadering moet Mashatile berispe en ‘n boete van tienduisend-rand oplê. Dit is vir sy versuim om ‘n diamantgeskenk aan sy vrou in sy finansiële en registreerbare belangeregister te verklaar. Die geskenk was van die sakeman Louis Liebenberg. Die DA sê die etiekverslag laat meer vrae as antwoorde, insluitend watter ander geskenke Mashatile en sy vrou van Liebenberg ontvang het, asook die waarde van die diamant.
# President Cyril Ramaphosa sal vandag die aangewese minister Firoz Cachalia inhuldig as die waarnemende minister van Polisie. Cachalia se aanstelling volg nadat die minister van Polisie, Senzo Mchunu, op spesiale verlof geplaas is te midde van die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nthanhla Mkhwanazi, se bewerings oor politieke inmenging. Die Madlanga-kommissie, onder die voorsitterskap van die afgetrede regter in die Konstitusionele Hof, Mbuyiseli Madlanga, sal die bewerings ondersoek. Cachalia vervang die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, wat in die rol waargeneem het. Die Presidensie sê die aanstelling dui op ‘n kritieke leierskapsverskuiwing om wetstoepassing en openbare veiligheid te versterk.
# President Donald Trump sê die vinnigste manier om die humanitêre krisis in Gaza te beëindig, is dat Hamas oorgee en die gyselaars vrylaat. Dit volg te midde van toenemende internasionale kommer oor berigte van ‘n massahongersnood en verslegtende omstandighede in die gebied. Drie-en-sestig wanvoeding-verwante sterftes is in Julie in Gaza aangemeld. Intussen het die Withuis se spesiale gesant, Steve Witkoff, gister met die Israelse premier Benjamin Netanyahu vergader, nadat die VSA aan die skietstilstandsgesprek in Gaza onttrek en Hamas beskuldig het van onderhandelinge in slegte trou.
# Gholf: Daniel van Tonder is bevestig as die eerste Suid-Afrikaanse deelnemer aan vanjaar se Nedbank-uitdaagtoernooi wat vroeg in Desember by Sun City in Noordwes plaasvind. Dit sal slegs sy tweede verskyning wees nadat hy sy buiging in 2014 gemaak het toe hy 29ste geeïndig het. Van Tonder het egter in 2021 die Suid-Afrikaanse Ope op dieselfde baan van die Gary Player-buiteklub gewen. Hy sê hy sien uit om aan die toernooi deel te neem na sy uiters suksesvolle seisoen op die Sonskyntoer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-78-sent teen die euro en 24-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-524-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-291-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….