Nuus 06:00
BULLETIN 20 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Voormalige Eskom-kontrakteur word aan Suid-Afrika uitgelewer
# Minister Ramokgopa onderneem om Suid-Afrikaners teen stygende energiekoste te beskerm
# En die Hisbolla-leier sê die toestel-aanvalle is ‘n oorlogsverklaring
# Die voormalige Kusile Kragstasie-kontrakteur, Michael Lomas is aan Suid-Afrika uitgelewer en sal na verwagting vanoggend om nege-uur by OR Tambo Internasionale Lughawe aankom. Verlede maand het ’n Londense hof beslis dat die 77-jarige, wat aangekla word van ’n beweerde korrupte Kusile-kontrak van 745-miljoen-rand, aan die land uitgelewer word. Lomas het geestesgesondheidskwessies aangevoer en dit beveg, maar die hof het dit verwerp. Die polisie sê Lomas word deur SAPD Interpol SA na die land vergesel en sal aan die Valke oorhandig word.
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het onderneem om Suid-Afrikaners teen die stygende energiekoste te beskerm. Hy het tydens ‘n parlementêre debat wat die DA geborg het, voorgestel die tydlyn vir Eskom se 2021/2022-skuldinvordering, ter waarde van agt miljard-rand, kan verleng word en munisipale doeltreffendheid moet verbeter om die finansiële druk op verbruikers te verminder. Ramokgopa het parlementslede verseker die regering sal streef na ‘n volhoubare energiestelsel en ekonomiese uitdagings sal aangespreek word:
# Die Stad Tshwane sê skoon water is op pad vir inwoners van Hammanskraal, met die Magalies-wateraanleg wat byna voltooi is. Die aanleg, wat oor die volgende paar maande in fases ingeskakel sal word, sal na verwagting die langdurige waterkrisis aanspreek. Die burgemeester, Cilliers Brink, het tydens ‘n nuuskonferensie voortgesette pogings verseker om die Rooiwal-afvalwatersuiweringsaanleg op te knap ten einde betroubare toegang tot water te verseker:
# Die leier van die Iran-gesteunde Libanese militante groep Hisbolla, Hassan Nasrallah, sê hierdie week se dodelike toestel-aanvalle in Libanon is ‘n oorlogsverklaring. Minstens 37 mense is dood en meer as twee-duisend-600 beseer toe roepradios [pagers] en tweerigting-radios Dinsdag en Woensdag ontplof het. Hisbolla sê Israel is verantwoordelik. Nasrallah sê die toestel-aanvalle het alle perke, reëls en rooi lyne oorskry en geen ag geslaan op onskuldige mense nie. Hy voeg by dat Israel ‘n regverdige straf sal ontvang.
# Tennis: Suid-Afrika se beheerliggaam sê die wanorde in sommige provinsiale strukture is die hoofrede vir Tennis SA se bedryfsverlies van bykans 300-duisend-rand vir die jaar tot 31 Maart. Die president van die organisasie, Gavin Crookes, sê in sy jaarverslag dit is verstommend dat sekere provinsies nie ‘n algemene jaarvergadering kan hou nie, nie betroubare finansiële state kan voorlê of ampsdraers kan verkies nie. Crookes is ook diep bekommerd oor die verval van die land se belangrikste tennisstadions.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-979-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-587-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-89-sent per vat.
# En ten slotte: Amerikaanse sterre, Busta Rhymes en Jason Derulo, is Saterdag die hoofvertonings by die Delicious Festival van DStv, nadat Janet Jackson weens familieverpligtinge onttrek het. R&B-sanger Jill Scott is die hoofvertoning op die tweede dag. Die fees by die Kyalami Grand Prix-renbaan sal ook vertonings insluit deur plaaslike kunstenaars soos Thandiswa Mazwai, Cassper Nyovest en ander.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….