Nuus 06:00
BULLETIN 18 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma se ANC-tugverhoor is uitgestel aangesien hy dit in die openbaar wil hou
# Die parlementsopening vind vanaand in die Kaapstadse stadsaal plaas
# En vandag is Nelson Mandela Internasionale Dag
# Oudpresident Jacob Zuma se ANC-tugverhoor is tot volgende week Dinsdag uitgestel. Hy het nie aangesluit by die virtuele verhoor waar hy deur die omstrede ANC-lid Tony Yengeni verdedig sou word nie. Zuma staar tugstappe in die gesig nadat hy van wangedrag aangekla is omdat hy in die openbaar gesê het hy beoog om vir die MK-party in die algemene verkiesing te stem. Dié party sê die oudpresident wil hê die verhoor moet net fisies wees en dit moet ook vir die publiek oopgestel word.
# Vanaand se parlementsopening vind in die Kaapstadse Stadsaal plaas. Die lokaal word gereeld gebruik sedert die vernietigende brand by die parlementêre kompleks in Januarie 2022, hoewel die inhuldiging van die parlement- en kabinetslede in die groter Kaapstad Internasionale Konvensiesentrum gehou is. Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, sê daar is as deel van kostebesparende maatreëls op die stadsaal besluit. President Cyril Ramaphosa sal sy toespraak om sewe-namiddag lewer.
# Die twee verdagtes in die moord op die voormalige wêreld-hoogspringkampioen, Jacques Freitag, verskyn moontlik vandag in die Landdroshof in Pretoria. Die voormalige prokureur en sy jarelange vriendin is vroeër die week in Mpumalanga aangekeer nadat hulle na ondervraging verdwyn het. Hulle is teruggeneem na Pretoria en hulle regsverteenwoordiger verwag die staat sal hulle borgtogaansoeke teenstaan. Freitag se liggaam is in die hoofstad aangetref nadat hy twee weke tevore laas by sy ma se huis in Bronkhorstspruit gesien is.
# Koning Charles het sy regering se verbintenis aangekondig om die Nasionale Gesondheidsdiens vir almal te verbeter. Die koning het beslis die NHS sal sorg verskaf ongeag pasiënte se vermoë om te betaal. In sy Staatsopeningsrede in die Parlement by Westminster het die koning onderneem om wagtye te verkort, te fokus op voorkomende sorg en geestesgesondheidsdienste te verbeter. Hy sê die regering wil toegang tot tydige en omvattende gesondheidsorg vir alle landsburgers verskaf:
# Olimpiese Spele: Die Springbok-sewesspan gee hulleself ‘n goeie kans om ‘n medalje in Parys in te palm. Die Blitsbokke het op die nippertjie gekwalifiseer nadat niemand gedink het dis moontlik nie. Hulle het gister na die Franse hoofstad vertrek. Die oud-kaptein Siviwe Soyizwapi sê hulle het ongelooflik hard gewerk om in die medaljewedloop te bly. Die Blitsbokke kom te staan teen die All Blacks, Ierland en Japan in Groep A in die toernooi, wat Woensdag in die Stade de France begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-490-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-458-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-23-sent per vat.
# En om af te sluit: Vandag is Nelson Mandela Internasionale Dag, ‘n dag waarop individue en gemeenskappe wêreldwyd aangemoedig word om 67 minute te gebruik om ander te dien. Vanjaar se tema is, Dit is steeds in ons hande om armoede en ongelykheid te bekamp. Die Nelson Mandela-stigting werk vandag saam met die Verenigde Nasies om 17 TEDx-gesprekke op grond van die doelwitte vir volhoubare ontwikkeling by die Gordon Institute of Business Science in Johannesburg aan te bied. Gushwell Brooks van die stigting sê almal het ‘n gesamentlike verantwoordelikheid om ‘n beter toekoms te vorm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….