Nuus 06:00
BULLETIN 19 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die portefeuljekomitee oor die Polisie is bekommerd oor die plan teen afpersing
# Krieket: Afghanistan klop Suid-Afrika vir die eerste keer
# En die Weerdiens waarsku oor ongunstige weersomstandighede dié naweek
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor die Polisie sê hy is teleurgesteld met die verbeeldinglose plan om afpersing in die land te bekamp. Die komitee het gister ‘n inligtingsessie hieroor deur die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur ontvang. Die voorsitter van die komitee, Ian Cameron sê hoewel die plan deur NATJOINTS die opkoms van ‘n nuwe misdaadtendens identifiseer wat buitelanders se winkels, die taxibedryf, huishoudings en skole teiken, is daar geen inligting oor voorkomende maatreëls om die euwel te bekamp nie.
# Die afgetrede hoofregter Raymond Zondo het pogings veroordeel om die reputasie van die voormalige minister van Staatsondernemings, Pravin Gordhan wat na ‘n kankerstryd oorlede is, te skaad. Zondo het buite Gordhan se huis in KwaZulu-Natal gepraat. Hy het Gordhan se rol in die stryd teen staatskaping geloof en ongegronde korrupsiebewerings teen hom verwerp. ‘n Spesiale amptelike begrafnis vind vandag by die Durbanse Internasionale Konvensiesentrum plaas:
# Die Stad Johannesburg het hierdie maand ‘n streng invorderingsveldtog van stapel gestuur om uitstaande munisipale skuld ter waarde van een-miljard-rand te verhaal. Hierdie poging teiken wanbetalers in verskeie kategorieë, insluitend diensverskaffers, verhuurders en eiendomseienaars met onbetaalde rekenings. Maatreëls sluit in, die aftrekking van skuld op betalings van dienste en die voortsetting van regsaksie. Die stad se woordvoerder, Virgil James, het inwoners aangemoedig om hul rekenings deur middel van verskeie betaalmetodes te vereffen en diens-ontkoppeling te vermy:
# Minstens 20 mense is dood en meer as 450 beseer toe tweerigting-radios reg oor Libanon ontplof het. Dit kom nadat radio-ontvangtoestelle [pagers] wat aan lede van die militante groep Hisbolla behoort, Dinsdag reg oor die land ontplof het. Twaalf mense, waaronder twee kinders is dood en byna drie-duisend beseer. Hisbolla het Israel beskuldig van die aanval en belowe om terug te slaan. Israel voer gereeld aanvalle in Libanon uit in reaksie op die lansering van Hisbolla-hommeltuie en -missiele. Israel het ook senior Hamas-amptenare in Libanon geteiken.
# Krieket: Afghanistan het Suid-Afrika met ses paaltjies geklop in die eerste van drie eendagwedstryde by die Sharjah-krieketstadion in die Verenigde Arabiese Emirate. Wiaan Mulder se loopbaan-beste van 52 was nie genoeg nie, want Fazalhaq Farooqi het vier paaltjies geneem om die Proteas vir 106 terug te stuur. Gulbadin Naib het geantwoord met ‘n onoorwonne 34 en die tuisspan se oorwinning verseker met 144 balle oor. Dit is die eerste keer dat Afghanistan Suid-Afrika in enige formaat klop. Die tweede eendagwedstryd word Vrydag by dieselfde stadion gespeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-316-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-557-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-75-sent per vat.
# En om af te sluit: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku teen beduidende weerveranderings hierdie naweek. ‘n Lente-afsny-laagdrukstelsel sal koue, nat en winderige toestande veroorsaak en in die suidelike en oostelike dele van die land word sneeu verwag. KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, die Vrystaat en Gauteng gaan ‘n dramatiese verskuiwing ervaar ná ‘n onlangse hittegolf. Die publiek en boere word versoek om voor te berei vir ongunstige toestande aangesien temperature vanaf vandag aansienlik sal daal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….